Een renoster word bykans daagliks in Suid-Afrika doodgemaak, volgens die jongste statistiek wat Sanparke vrygestel het.
Sanparke het Maandag (14 Maart) in Pretoria aangekondig dat 71 renosters vanjaar al deur stropers vir hul horings doodgemaak is, terwyl dié jaar nog net 73 dae lank is.
Styg met 20 in ’n week
Die organisasie het verlede week aangekondig dat 51 renosters reeds doodgemaak is, maar nadat vars en ou karkasse onlangs gevind is, het die getal met 20 gestyg.
“Hierdie syfer sluit in vars en ou karkasse wat in die verskeie parke en natuurreservate landwyd gevind is,” aldus dr. David Mabunda, hoof uitvoerende beampte van Sanparke.
64 stropers aangekeer
Volgens Mabunda is 64 stropers terselfdertyd in die land aangekeer. Verlede jaar is 164 stropers aangekeer en 333 renosters doodgemaak.
Tot dusver is vanjaar reeds 46 renosters in die Krugerwildtuin doodgemaak, terwyl die 9 renosters wat in reservate in Limpopo doodgemaak is, die meeste vir ’n provinsie is. In die Oos-Kaap en in KwaZulu-Natal is vanjaar reeds onderskeidelik 6 renosters doodgemaak.
Die meeste stropers, 32, is vanjaar in die Krugerwildtuin aangekeer.
“Die aanval op ons renosterbevolking is hartverskeurend en, soos me. Edna Molewa, die Minister van Omgewingsake en Waterwese, verlede week aangekondig het, is dit tyd dat ons buurlande ook tot die stryd moet toetree,” sê Mabunda.
14 Maart 2011