
Die landboumaatskappy GWK het behoorlik volwassenheid bereik sedert sy stigting 21 jaar gelede met 'n klein groepie boere-aandeelhouers teenoor die huidige sowat 4 000 aandeelhouers met 'n beskikbare aandeelhouding-fonds van sowat R1,04 miljard.
Dit is die hoogste geskiedkundige vlak wat die GWK-fonds tot dusver bereik het.
GWK se sterk sakegroei die afgelope jaar is op sy algemene jaarvergadering in Kimberley bekend gemaak.
Van die hoogtepunte
Van die hoogtepunte in sy finansiële state is die toename in sy omset met 11,2% tot R8,34 miljard; die gemiddelde opbrengs op sy aandeelhouding die afgelope sewe jaar van 21% per jaar en 'n toename in die getal aandeelhouers van 10%.
Mnr. Frank Lawrence, voorsitter van GWK se direksie, se hoër kommoditeitspryse, 'n groei in sy markaandeel, 'n sterk fokus op doeltreffendheid en buitengewone uitvoerresultate het tot die maatskappy se winsgroei bygedra.
Aan aandeelhouers betaal
Altesaam R105,8 miljoen is met die afsluiting van die finansiële jaar aan aandeelhouers uitbetaal.
GWK het ook 'n nuwe soort voorkeuraandeel bekend gemaak waarvolgens die verhandeling van aandele binne die maatskappy moontlik gemaak word. Mnr. Johann Klopper, GWK se finansiële direkteur, sê aandeelhouers kan hiervolgens hulle belegging in die maatskappy in B-voorkeuraandele omskep en vrylik verhandel wat jaarlikse dividende oplewer. Tans was aandeelhouers se belegging in GWK vir 'n termyn van 15 jaar vasgestel. Die beskikbaarstelling van voorkeuraandele sal in groepe geskied.
Voordeel vir sy aandeelhouers
Volgens mnr. Pieter Spies, GWK se uitvoerende hoof, het die maatskappy sy belofte om volhoubare belegging in die landboubedryf te maak, te midde van ekonomiese voordeel vir sy aandeelhouers, gestand gedoen.
Volgens Spies sal die uitwerking van die droogte van die afgelope twee jaar die uitdaging aan die hele landboubedryf vergroot met minder plaaslike verhandelbare produkte beskikbaar en 'n afname in die verkryging van nuwe infrastruktuur oor die hele bedryf.