
Die landbou het die grootste potensiaal om aarde te genees, mense korrek te voed én werk te skep.
Die biodinamiese boer van Spier, mnr. Angus McIntosh, een van die sprekers by Landbouweekblad se Oplossings vir die landbou-konferensie, het sy boerderyplan van hoëdigtheidsbeweiding, nisproduksie en ’n verskeidenheid inkomstebronne van een stuk grond (stacking) uiteengesit. (McIntosh is ook bekend as @FarmerAngus.)
McIntosh se Limousin-kudde was die eerste amptelik geregistreerde veldbeeste in Suid-Afrika. “My beeste is so gesond, dit was vanjaar nog nie een keer nodig om ’n bees in te spuit nie.”
Twee keer per dag geskuif
Die kudde word twee keer per dag geskuif, kry ’n mineraallek wat hulle self kan kies en “medikeer hulself”.
Buiten die Limousins boer hy suksesvol op klein skaal met Nguni’s, hoenders, eiers en koolstofkrediete en lewer vleis aan toprestaurante.
McIntosh sê boerdery is 50% produksie en 50% bemarking. Danksy sy boerderymetodes is sy produksiekoste laag en marges gesond.
Siektes en glifosaat
Die vleis wat hy produseer, kos dieselfde as voerkraalvleis, maar hy meen voerkraalvleis moet heelwat duurder as veldvleis wees as die koste van inflammatoriese siektes en glifosaat verreken moet word.
Voorts moet die produk goed lyk en moet mense goed voel oor die produk. “Mense is lief vir verpakking, en om by die regte formule uit te kom, was dit vir ons nodig om 7 km se plastiek te koop.”
Volgens hom is die grootste boerderyprobleem supermarkte. “Kleinhandel maak die landbou dood. Hulle dwing jou om óf in ’n nisrigting te beweeg óf om ’n kommoditeitsprodusent te word.”
“Suid-Afrika staar ’n gesondheidsepidemie in die gesig – en die mens, waarby die landbou ingesluit is, vernietig die omgewing. Terselfdertyd is die landbou die kragtigste middel om hierdie vernietiging om te keer.”
Sukses met hoëdrukbeweiding
Danksy sy benutting van dekgewasse en sukses met biomassa danksy hoëdrukbeweiding bind hy meer koolstof in die grond as wat dit vrystel. Gevolglik was hy ook die eerste boer in die land wat koolstofkrediete verkoop.
Hy voorspel ’n mega-neiging in die rigting van diversiteit. “Dink net hoeveel meer vrugbaar jou plaas kan wees as jy organiese materiaal in die grond opbou, en die hoë energie in die weiding deur kan syfer tot in die beeste.” Boonop verminder jy jou koste op dié manier, sê hy.
Hernubare landbou is moontlik, ook om ekologies, finansieel en sosiaal winsgewend te wees. “As jy nie op daardie drie bene kan staan nie, is jy in die moeilikheid.”
* Lees meer oor Angus se boerdery hier.