Die eerste boere verhuis in Mei nadat die Kongo na die kontrak tussen Agri SA en die Kongolese regering gefinaliseer is.
Mnr. Andre Botha, voorsitter van Agri Kongo, sê ‘n groep van 14 boere het die land verlede week besoek om die kontrak af te handel en die eerste vyf boere vertrek op 1 Mei om hulself daar te gaan vestig.
Botha sê die Afrikaland se staat het 13 plase aan Suid-Afrikaanse boere beskikbaar gestel, en die groep gaan hulself op die eerste plaas, Malolo, wat 80 000 ha beslaan, vestig. “Ons strategie is om ‘n groep boere in ‘clusters’ op die plase te vestig, veral wat sosiaal-maatskaplike ondersteuning aanbetref. Op dié eerste plaas sal die aanvanklike eenhede 2 000 ha groot wees met die moontlikheid vir ‘n boer om uit te brei.”
Volgens Botha gaan die helfte van die groep hulself permanent op die plaas vestig, terwyl die ander slegs hul bedrywighede na die Kongo gaan uitbrei. Die volgende groep van 14 gaan dié land in middel April besoek, en sou hulle besluit om boerderye daar te begin, sal die eerste plaas basies vol wees.
Die kontrak
Botha sê die kontrak bepaal dat Suid-Afrikaanse boere oor ‘n tydperk van 90 jaar, wat elke 30 jaar hernu moet word, op die plase kan boer. Hy sê die primêre doel vir dié stap deur die Kongolese regering is om die land se mense te help om volhoubaar te boer en selfvoorsienend te wees.
Die oeste sal dus aan plaaslike markte verkoop word, terwyl die oorskot uitgevoer sal word. “ ’n Spoorlyn loop oor die eerste plaas, en die regering het onderneem om ‘n stasie op die plaas op te rig sodat boere hulle produkte van daar na die hawe kan vervoer, waarvandaan dit dan uitgevoer kan word,” vertel Botha.
Die kontrak bied Suid-Afrikaanse boere ook beskerming sou politieke onluste of oorlog in die land voorkom en hulle op die vlug moet slaan. “Beide die Kongolese en Suid-Afrikaanse regerings het die kontrak onderteken op ‘n basis van die beskerming van eiendom – die boer het dus die versekering dat, sou sy plaas onteien word of ‘n oorlog breek uit, sy bates uitbetaal sal word.”
Veiligheid
Volgens Botha is dit ‘n baie veilige land en is die ingesteldheid van die mense baie tegemoedkomend. “Daar is ons nie as die vyand gesien nie. Inteendeel, orals waarheen ons genooi is om met die mense en die media te gesels is ons met applous verwelkom.”
Botha vertel dat mnr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA, sy handbagasie en skootrekenaar op Brazzaville se lughawe vergeet het. “Nou dit is besig daar, dit lyk soos ‘n taxitank in die stad, waar daar baie mense beweeg. ‘n Uur en ‘n half na ons die lughawesaal verlaat het, het ons teruggestap vir Theo se goed en dit het presies gestaan waar hy dit gelos het. Dié mense beset ook nie die leë geboue naby aan die lughawe nie, want hulle sê dit is nie hulle s’n nie.”
Gewasse
Die land bied baie gunstige toestande vir verbouing van gewasse. Botha sê wat graan aanbetref lewer die grond 10 ton per ha op droë grond met die minimum insette. Die dagtemperatuur is gemiddeld 32 grade Celsius, die humiditeit is sowat 90% en die gemiddelde reënval per jaar is 2 500mm.
Die gewasse wat goed in die gebied aard sluit in: Graan – mielies en sojabone, suiker, sitrusvrugte, avokado’s en casava. Botha sê kommersiële houtproduksie word ook op die eerste plaas beplan – veral met bloekombome. Hulle sal ook fokus op boerderye met skape, beeste, bokke, hoenders en eiers.
‘n Groot voordeel is ook dat een van die land se grootste riviere op die noord-oostelike grens van die die plaas loop, so watervoorsiening behoort nie ‘n probleem te wees nie.
15 Maart 2011