
Nét in Amerika: Die eerste 72-punt-draaimelkstal mét robotarms neem gestalte aan op ’n plaas in die deelstaat Wisconsin.
Luidens die webblad The County Line is dit die eerste melkportaal in Amerika wat ten volle deur robots bedien sal word. By elke kraampie op die ronde draaitafel is ‘n robotarm wat die koei se uier ontsmet, die spene voorberei, die hulse aanheg en nadat die koei gemelk is, die nodige skoonmaakwerk aan die hulse en die spene doen en dit ontsmet. Dié werk word normaalweg deur werkers gedoen.
Mnr. Nick Mlsna bestuur die plaas saam met sy gesin. Al wat leef en beef in Cashton, Mlsna se tuisdorp met skaars 1 000 inwoners, het opgeruk om die allermodernste installasie van dié draaimelkstal vir 72 koeie mee te maak.
Mlsna sê hulle het voorheen 900 koeie drie keer per dag in ’n dubbel-12-punt-draaitafel gemelk, maar wanneer die nuwe stal in Maart 2015 begin werk, gaan hulle die kudde tot 2000 koeie uitbrei.
Mnr. Johannes Loubser van die Fair Cape-melkery by Durbanville, Kaapstad, sê dis die eerste keer dat hy van dié tegnologie hoor. “In Holland word melkrobotte gebruik en die koeie stap na die robot toe wanneer dit melktyd is.” Dié melkerye hanteer so 70 tot 80 koeie.
Loubser sê Fair Cape gebruik ’n 64-punt draaitafel en melk tans 1 700 koeie drie keer per dag. Dit beteken dat ’n koei elke 8,5 sekondes op die draaitafel klim. Fair Cape lewer sowat 70 000 liter melk per dag.
“Daardie robotmelkery in Amerika sal werlik sy litte moet roer om al daardie koeie gemelk te kry,” sê hy.
Bron: The County Life