Die Regering wil die ouderdomsbeperking op die gebruik van alkohol van 18 jaar tot 21 jaar verhoog in pogings om die misbruik van drank te bekamp. Hierdie is een van die beleidsvoorstelle wat die interministeriële komitee vir drank- en dwelmmisbruik by die komende konferensie oor die misbruik van dié middels in Durban gaan bespreek.
Daar sal veral gefokus word op die bekamping van drankmisbruik in landelike gebiede en op plase. Me. Bathabile Dlamini, Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, het op ’n perskonferensie by die Parlement gesê misbruik van dié middels bring mee dat baie mense hul lewe verloor, ander gaan tronk toe en baie keer lei dit tot die verbrokkeling van gesinne.
“Ons Regering besef dat drank- en dwelmmisbruik ’n ernstige bedreiging vir gesondheid en ontwikkeling inhou. Dit ondermyn ook ons pogings om maatskaplike samesyn te bou.”
Maatskaplike euwels
In die Suid-Afrikaanse konteks is daar ’n verband tussen drank- en dwelmmisbruik, geslagsgeweld, misdadige aktiwiteite, soos bendes, geldverduistering, mensehandel, fetale alkoholsindroom en ernstige padongelukke.
Sy het uitgewys dat plaaslike navorsing wys drank is die faktor in 29% van motorbestuurders wat in ongelukke beseer is en in 47% van dié wat in ongelukke sterf.
Die wêreldverslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie oor alkohol en gesondheid wys Suid-Afrika is een van die lande waar drank die meeste misbruik word.
Beleidsverandering?
Van die beleidsbeginsels wat die komitee by die konferensie gaan voorlê, is dat daar strenger beperkings op die advertering van alkohol geplaas moet word. Dranklisensiegeld sal hersien moet word, die nakom van die lisensievoorwaardes sal gemonitor moet word en die hernuwing van die lisensies moet nie outomaties geskied nie, maar moet gekoppel word aan die mate waarin hulle aan die verkoopsvoorwaardes voldoen.
Daar sal ook strenger maatreëls vir drinkery in die openbaar en dronkbestuur ingestel word.
11 Maart 2011