
In die Wes-Kaap is dit afdraand oestyd toe met die eerste koring en kanola wat al in die suidelike graangebiede gelewer is.
Mnr. Henk de Beer, hoofbestuurder: bedrywe by Sentraal-Suid Koöperasie (SSK) op Swellendam, sê die eerste paar vragte koring is drie weke gelede op Albertinia gelewer en die eerste kanola is middel-September by SSK se Krombeksrivier-silo ingeneem.
Volgens hom is daar goeie vooruitsigte vir ’n oes wat oorwegend beter as verlede jaar s’n kan wees. “Dit was ’n redelik gesonde jaar en geen nuwe of groot peste of plae het voorgekom nie. Produsente volg deesdae in elk geval voorkomende spuitprogramme.”
In die Caledon- en Bredasdorpomgewing lyk die graan baie goed na die min reën met planttyd, sê mnr. Francois Human, landbou-adviseur by Overberg Agri. “Dis veral die gars en kanola wat vanjaar baie goed lyk. Reën in die volgende paar weke is egter baie belangrik vir ’n goeie oes.”
Mnr. Neels Welman, hoofbestuurder van Wes-Kaap Graanprodusente Edms. Bpk. Op Malmesbury, sê daar dui die graan wat in die stadium op die lande staan, op ’n gemiddelde tot bogemiddelde oes.
By Eendekuil kan graanboere weer asemhaal en snags slaap, sê mnr. Thys Grobbelaar van die plaas Koringkloof. Hulle het middelSeptember sowat 30 mm reën gekry. “Dit was nog betyds. Die koring is besig om mooi te herstel. Dis maar ongelyk, met ’n klomp ryp en ’n klomp groen, maar as dit nat bly, sal die groenes bykom.”
Hy glo as hulle tot middel-Oktober nog reën kry, kan hulle beter oeste as verlede jaar se 900 kg/ha behaal.