
Mnr. Nathan Naudé, ’n boer van Kriegerspoort, Steynsburg, is Saterdag as die wenner van die eerste Lamb Champs-kompetisie aangewys.
Tien kos- en vleiskenners het lammers van meer as 50 boere beoordeel. Die lammers wat op die spit gebraai is, is individueel beoordeel.
Mnr. Gawie van Heerden, uitvoerende direkteur van Konsortium-Merino wat op Dombietersfontein, Victoria-Wes, boer, was tweede en mnr. Hennie Jonker van Kroonstad in die Vrystaat was derde.
Die spogtrofee ter waarde van R80 000 en prysgeld van R50 000 is deur mnr. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van die familieboerderynetwerk Saai, aan Naudé oorhandig.
“Ons as Nitique Boerdery en Karoo Treasures sê baie dankie vir ’n wonderlike dag,” het Naudé gesê. “Dit was vir ons ’n groot belewenis en ’n lekker ervaring. Dit gaan baie vir ons bemarking beteken. Dit het vir ons ’n wyer netwerk geskep.”
Saai het saam met mnr. Meyer le Roux, mede-stigter van die Buffelsfontein-groep, die afgelope drie maande ’n reis onderneem waartydens hulle boere en deelnemers in al nege provinsies besoek het op soek na Suid-Afrika se beste lamsvleisprodusent. Aspekte wat beoordeel is, sluit in die grootmaak, vetmaak, afrond en gaarmaak van lammers, asook die verskillende boerderypraktyke wat gevolg word.
“Wat hierdie geleentheid so spesiaal gemaak het, is dat ons verbruikers kon bekend stel aan die boer agter die produk,” het Rossouw gesê.