
’n Gesin van Noordwes het vanoggend (3 Julie) ’n geskiedkundige oomblik beleef toe hulle saam eerste in drie van die gewigsklasse die laaste skof van die moordende Fauresmith-uithourit aangepak het.
Mnr. Nardus Scheepers, ’n sakeman en boer van Schweizer-Reneke, sy vrou, Anne-Mari, en hul elfjarige seun, CF, het die derde dag van die uithourit die voorste wegspringplek in die klasse vir standaardgewig, liggewig en kinderruiter beklee te danke aan hulle vertoning oor die eerste twee dae.
Scheepers, op die reun Jactru Star, was verlede jaar tweede in sy afdeling en klein CF, op die 15-jarige reun Schakker, was in 2012 die derde beste kinderruiter op Fauresmith. Ma Anne-Mari, op die reun Pegasus, bedryf die gesin se Fanac-Arabierperdstoetery.
’n Vierde lid van die gesin wat nie vanjaar aan die Fauresmith-rit deelgeneem het nie, die 14 jarige Nadine, was vroeër vanjaar die junior wenner van die Drienasies-byeenkoms en het ook die vinnigste tyd aangeteken.
Die Scheepers-gesin is die afgelope agt jaar sedert die stigting van die Fanac-stoetery by uithouritte betrokke.
Die ruiters in die ander gewigsklasse wat vanoggend eerste weggespring het, was Anya Lubcer (jong ruiter) van Groblersdal op die reun Arkab Tiktok en mnr. Lucas Fourie (swaargewig) van Louwna op die reun Sakura.
Vanjaar se 41ste Fauresmith-perde-uithourit is deur die uitstekende standaard van die perde en deelnemers gekenmerk en deelnemers is dit eens dat die mededinging oor die jare toeneem.
Die toestande wat die deelnemers moes trotseer, was goed. Dit was, soos verlede jaar, weer nie uiters koud nie. Koeler toestande bevorder gewoonlik die prestasie van die perde.