
Wydverspreide reën het in die winterreëngebiede van die Wes- en Noord-Kaap geval en verligting en hoop gebring.
In die Overberg het graanlande al ’n groen skynsel nadat sowat 60 mm by Caledon en 30 mm by Swellendam gemeet is.
Mnr. Joos Badenhorst van die plaas Langvlei in die Napky sê die meeste boere in sy omgewing het 30 mm reën gemeet. By hom is dit die eerste reën van die jaar, en hy hoop op opvolgreën.
Lande was geplant
Al sy lande was geplant teen die tyd dat dit gereën het. Hy sê die damme het nog nie water nie, en weiding is so skaars dat hulle die skape en beeste moet voer. Hy het gelukkig gars en hawer wat hy verlede jaar geoes het, maar baie boere in sy omgewing moet mielies en lusern aankoop. Hoewel die mielieprys relatief laag is, het die prys van lusern die afgelope drie weke met sowat R300/t opgegaan.
Reënvalsyfers vir Wesgraan, Kaap Agri se afdeling vir graanhantering, -opberging en -verhandeling, se graanleweringspunte in die Swartland toon groot verskille vir die tydperk 1 tot 10 Junie. Dit het 94 mm by die leweringspunt op Ceres gereën, 53 mm by Darling, 48 mm by Eendekuil, 36 mm by Klipheuwel, 51 mm by Malmesbury, 48,5 mm by Piketberg, 41 mm by Pools, 36,30 by Porterville, 52 mm by Riebeek-Wes, 38 mm by Ruststasie en 26,5 mm by Vredenburg.
Mnr. Cobus Bester van UD Boerdery by Moorreesburg sê hulle het 40 tot 60 mm reën gekry. "Dis genoeg vir opkoms. Dis ’n maand agter skedule en ons het nie weiding nie. Ons sal seker nog vir ses of agt weke voer gee." Hy sê hulle het in die droë grond gesaai, maar daar is nog boere wat besig is om te saai.
In die Noord-Kaap
Plase in die droogte-geteisterde Calvinia-omgewing het goed reën gekry, dog boere sal minstens ses weke nog moet voer gee voordat hul veld gewei kan word. Me. Huibrey Theron van die plaas Droëkloof, wat rondom Nuwejaar die helfte van hul weiveld in ’n verwoestende brand verloor het, sê hulle het 60 mm reën gekry. "Min water het weggeloop omdat alles in die grond ingetrek het."
Mnr. Willie de Lange van die plaas Platpoort, Calvinia, sê die 34 mm reën wat hy in Junie in twee sessies gekry het, is ’n goeie opvolg vir die 25 mm reën wat hy in die eerste week van April gekry het. Hy kon intussen ophou om sy vee te voer.
Op die Kamiesberg in Namakwaland het die Archers van Pedroskloof die eerste week in Junie 40 mm reën gekry, sê me. Sulene Archer. Onder die berg het dit 52 mm gereën.