
Die aanbod van eetbare olies en vette, plaaslik sowel as internasionaal, is onder druk en dit kan veroorsaak dat pryse in die volgende maand met nog tussen 10% en 30% kan styg.
Hierdie waarskuwing kom van Southern Oils (Soill) op Swellendam wat onder meer die handelsmerk B-Well besit. Soill sê in ’n verklaring voorrade is beperk en ondernemings wat olie pars se bestuur van voorraadvlakke is nou van deurslaggewende belang.
Mnr. Morné Botes, kommersiële direkteur, sê hoewel Suid-Afrika met goeie oeste van veral sonneblom op die lande sit, bly hy ’n netto-invoerder van alle groente-olies en die konflik tussen Rusland en Oekraïne, wat saam bykans 60% van die wêreld se sonneblomolie uitvoer, beïnvloed Suid-Afrika ook. Suid-Afrika is onder meer ook afhanklik van palmolie-invoere uit Maleisië en Indonesië, sowel as soja-invoer uit Suid-Amerika.
“Die effek van prysverhogings sal al aan die einde van hierdie maand gevoel word en dit is nie net die voedselbedryf wat geraak word nie. Dit geld ook vir ander bedrywe soos die verf- en kosmetiese bedrywe wat olie gebruik.”
Soill sê tradisioneel was palmolie die goedkoopste, maar ’n afname in produksie in die uitvoerlande het die pryse opgejaag. Dit is verder vererger deur Indonesië wat beperkinge op uitvoer geplaas het.
Soja-olie, wat normaalweg ook relatief goedkoop is, se pryse is ook opgejaag deur droogteverliese in Suid-Amerika. Daarby was daar verlede jaar ook verliese weens droogte in Kanada se kanola-oes.
Wêreldproduksie van 7 soorte oliesade staan op 574 miljoen ton, wat 1,8 miljoen ton laer is as die vorige seisoen ondanks vroeëre verwagtinge dat daar ’n aansienlike toename in produksie sou wees. Hierdie syfers neem ook nie moontlike beperkinge uit Rusland en Oekraïene in ag nie.
Die wêreld se verbruik word geraam op sowat 590 miljoen ton en die tekort sal ’n groot hap uit wêreldvoorrade neem, aldus Soill. Die verwagting is dat dit sal lei tot groter aanplantings in die 2022-’23-seisoen maar ’n toename in produksie en opbrengste sal van goeie weersomstandighede afhang in veral Kanada, Amerika, Oekraïne, Rusland en Europa.
Soill sê op kort termyn kan die wêreldmark nie die verlies aan uitvoer van groente-olies uit die Swartsee-omgewing vervang nie en daar sal ’n aansienlike afname in verbruik moet wees anders sal dit tot tekorte lei. Die verwagting is ook dat daar ’n afname in die gebruik van olie vir biodiesel in Amerika en Europa sal wees om meer olie vir voedsel beskikbaar te maak en voedselinflasie te beperk.