
Die Regering het ‘n beleidsvoorstel die lig laat sien wat die massa-uitsetting van plaaswerkers tot gevolg sal hê, meen mnr. Andile Mngxitama, ’n EFF–LP.
Hy het die Parlement se komitee van landelike ontwikkeling en grondhervorming gewaarsku dat indien nie vinnig duidelikheid oor die voorgestelde besprekingsdokument, “Finale beleidsvoorstelle oor die versterking van die relatiewe regte van mense wat die grond bewerk” gekry word nie, sal die land geen plaaswerkers op plase teen April het nie. Die beleid stel voor dat boere 50% van hulle grond aan hulle werkers moet gee.
“Ons het reeds ‘n miljoen plaaswerkers in die land verloor, selfs met die wetgewing wat in plek is om ons mense te beskerm,” het Mngxitama gesê.
Volgens hom lyk dit of die regerende ANC die werk van onteiening van 1652 voortsit met hierdie beleidsvoorstel en boere ‘n jaar kans gee om van plaaswerkers ontslae te raak.
Mngxitama en ander LP’s van die opposisiepartye het by die eerste komiteevergadering voorgestel dat die komitee dié kwessie op sy sakelys vir aanstaande week sit.
Die ANC het dit heftig teengestaan en die komitee herinner dat die finalisering van begrotings voorkeur geniet. Ander kwessies kan later na gekyk word.
Mnr. Thomas Walters, DA-LP, het gesê dis van groot belang dat dié kwessie dringend aangespreek moet word, want dit bring onsekerheid by plaaswerkers en die eiendomsmark.
Me. Phumzile Mabila, voorsitter van die portefeuljekomitee, het egter daarop gewys dat wanneer mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, volgende Woensdag se komiteevergadering bywoon om die strategiese plan van die departement te bespreek, hy vrae oor die beleidsvoorstel gevra kan word.