’n Egpaar wat op ’n plaas naby Ficksburg woon, is vir die tweede keer in minder as ’n jaar aangeval.
Luidens ’n berig in Volksblad (27 September 2011) is die 65-jarige mnr. Willem Serfontein en sy 57-jarige vrou, Anna, Maandag (26 September 2011) deur drie verdagtes by hul huis op die plaas Avondson ingewag ná hulle van die werk af tuisgekom het.
Die rowers het die egpaar vasgebind en van hul besittings op hul bakkie gelaai om daarmee op die vlug te slaan.
Weggejaag
Me. Serfontein het egter daarin geslaag om haarself los te wikkel en ook haar man te bevry. Sy het toe uit die huis gehardloop, in die bakkie gespring en weggejaag om hulp te ontbied. Die verdagtes het weggehardloop.
Hulle het wel met ’n selfoon en ’n tweerigtingradio weggekom. Mnr. Jordaan Marais, ’n beampte van die plaaswag in die distrik, sê boere en lede van die plaaswag het die drie mans agtervolg. Hul spore het tot by die Caledonrivier gelê, waar hulle vermoedelik oor die rivier na Lesotho is.
Nóg ’n egpaar is vroeër vandeesmaand glo op dieselfde wyse op hul plaas beroof. Die vorige aanval op die Serfonteins het op 27 Desember 2010 plaasgevind. Tydens dié aanval is hulle aangerand en van klere, ’n hoëtroustel en selfone beroof.
Reaksietyd
Intussen sê mnr. Kobus Breytenbach, die voorsitter van Vrystaat Landbou se veiligheidskomitee, die polisie se reaksietyd ná Maandag se aanval is vir hulle ’n bron van kommer.
“Die polisie het glo ’n uur en 40 minute ná die aanval eers op die plaas opgedaag. Ons vind dit werklike betreurenswaardig dat die polisie so lank gevat het, veral omdat die verdagtes oor die grens kan vlug,” vertel Breytenbach.
Bron: Volksblad
27 September 2011