In Mei vanjaar het die Pretoriase hooggeregshof ’n uitspraak gelewer dat ’n deel van die Wet op Egskeiding (Wet 70 van 1979) ongrondwetlik is (Greyling vs. minister van binnelandse sake en andere).
Hierdie hofsaak kan groot veranderinge teweegbring vir hoe egskeidings in die toekoms hanteer kan word wanneer ’n boer skei, selfs indien die boer buite gemeenskap van goedere sonder die aanwasbedeling getroud was.
Die posisie voor hierdie hofsaak, ingevolge artikel 7(3) van die Wet op Egskeiding, maak voorsiening daarvoor dat die hof ’n diskresie het waar ’n huwelik buite gemeenskap van goedere gesluit is vóór 1 November 1984, om ’n herverdelingsbevel uit te reik wat kan beveel dat geld of bates na een van die gades in die huwelik oorgedra moet word in die geval van ’n egskeiding.