
Die gewillige verkoper/gewillige koper-beginsel is steeds in plek en sal by grondhervorming in ag geneem word, verseker mnr. Gilly Dlamini, strategiese beplanner by die Land Bank, wat by Agri SA se kongres meer lig gewerp het op die Nasionale Beplanningskommisie (NBK) se voorstelle vir grondherverdeling.
Hy het namens prof. Mohammad Karaan, kommissaris vir die NBK, gepraat oor die strategie in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) vir landelike en landbou- ontwikkeling. Die voorstelle is geskoei op suksesvolle grondhervorming, werkskepping en die beskerming van die omgewing. Die dryfveer is die uitbreiding van besproeiingsboerdery sowel as die ontwikkeling van droeëlandproduksie in sekere gebiede.
Dlamini sê die Regering is terdeë bewus van die koste van grondhervorming. Daar word bereken dat die waarde van bestaande landbougrond sowat R167 miljard is. As 20% daarvan herverdeel word beteken dit sowat R33 miljard en as dit oor 15 jaar gedoen word, kom dit neer op R2 miljard per jaar.
“Die Grondwet vereis dat mense wat grond besit daarvoor vergoed word indien hulle daarvan afstand doen. Die Regering besef sy verantwoordelikheid hieromtrent. Maar waar gaan die geld vandaan kom?”
Hy sê die voorstel op die tafel is dat die Regering jaarliks R1 miljard hiervan skenk en dat die ander R1 miljard beskikbaar gestel word uit lenings deur kommersiële banke, landbou-besighede en die Land Bank teen gunstige rentekoerse.
Ván die mikpunte is om ’n bykomende 500 000 ha onder besproeiing te ontwikkel deur beter benutting van bestaande bronne en die konstruksie van nuwe besproeiingskemas. Binne ou tuislandgebiede is daar die moontlikheid om 300 000 werksgeleenthede te skep deur die uitbreiding van kommersiële sowel as kleinskaalse produksie. Terselftertyd is daar ook die potensiaal van 145 000 werksgeleenthede in die uitbreiding van verwerkingsaanlegte, veral naby metro-gebiede.
Dlamini sê die beginsels waarvolgens herverdelingsprojekte benader sal word, is dat dit deur die betrokkenes bestuur sal word, dat dit uitvoerbaar moet wees, dit op gesonde sake-beginsels gegrond moet wees, daar potensiaal vir ontwikkeling moet wees, dit produktiewe grond moet wees wat oorgedra word en dat daar verblyfsekerheid vir die grondbewoners moet wees.
Die sukses daarvan sal onder meer bepaal word deur die produksievermoë van die grond, die identifisering van geskikte begunstigdes, ’n regverdige prys vir die grond, ’n gesonde skuldverhouding en voldoende tegniese steun.
Grondhervormingskomitees, bestaande uit onder meer staatsamptenare, boere en gemeenskapsorganisasies sal die proses op plaaslike vlak bestuur.