
Die land is ’n stap nader aan ’n nuwe era met die publikasie van die voorgestelde regulasies vir die waardering van eiendom ten bate van grondhervorming.
Die regulasies in terme van die Wet op Eiendomswaardering stel onder meer die standaarde, metodes en prosedure vir eiendomswaardering, die prosedure vir die waardasie van grond vir grondhervorming en hoe die waarde bepaal moet word van ’n eiendom wat vir grondhervorming of ander doeleindes deur die Regering aangekoop word.
Die Wet op Eiendomswaardering wat sedert Julie 2014 van krag is, het dit moontlik gemaak vir die aanstelling van die land se eerste waardeerder-generaal. Mnr. Christopher Kobla Gavor, ’n voormalige direkteur vir waardasies by die Stad Kaapstad, is in 2015 as die waardeerder-generaal aangestel.
'Alternatief vir gewillige koper/verkoper'
Volgens die Regering was hy genoodsaak om ’n alternatief vir die beginsel van gewillige koper/-verkoper te vind vir grondaankope deur die staat, sodat grondpryse nie buitensporig verhoog word wanneer hy grond vir grondhervorming aankoop nie.
Een van die belangrike take wat die waardeerder-generaal moet vervul, is om grond te waardeer wat vir onteiening geoormerk is én dié wat vir grondhervorming geïdentifiseer is.
Sal somme maak
Volgens die regulasies op eiendomswaardering sal die waardeerder-generaal die waarde van die eiendom wat vir die doeleindes van grondhervorming aangekoop word, vasstel deur onder meer die huidige gebruikswaarde en die markwaarde van die eiendom bymekaartel en die syfer deur twee te deel.
Dit is met dié verstandhouding dat die markwaarde van roerende eiendom, die jaarlikse gewasse of bome vir houtwerk wat steeds groei en dus nog nie geoes is toe die waardasie gedoen is nie, bygetel word voordat die syfer deur twee gedeel word.
* Mense kan kommentaar op die regulasies lewer tot 22 Junie 2017 by vg@ovg.org.za