
Die Wilken-egpaar Danie, skoolhoof, en Riana het 19 jaar gelede die Gelukwaarts-plaasskool buite Van Stadensrus met 35 kinders begin ná ’n tragedie wat die Wilken-familie en omgewing hard geruk het.
Gewapende rowers het Danie se oom wyle mnr. Neels Wilken, ’n vooraanstaande boer van die distrik, in Kersnaweek 1993 in ’n plaaslike padkafee voor die oë van sy kleindogter Minette, toe in gr. 10, doodgeskiet. ’n Ander kleindogter, Luani, het onder ’n toonbank in die kafee gelê.
Mnr. Hennie Bekker, eienaar van die padkafee en boer van die plaas Mooifontein, het in dieselfde rooftog omgekom. Hy is voor die oë van sy vrou, Marie, doodgeskiet. Ná die skietdrama is wyle Neels se broer, mnr. Oelf Wilken, boer van Smithfield, Kersoggend by die telefoon aan ’n hartaanval dood terwyl hy die nuus van sy broer se dood aan ’n familielid meegedeel het.
Danie, van die plaas Hamburg, sê hy het na dié slagting besef gewere en honde gaan hom en sy familie nie in die toekoms beskerm nie, maar wel opleiding. Hy en Riana sal einde Januarie ’n skool met meer as 170 leerlinge, een van die min oorblywende sterk plaasskole in die Vrystaat en land, in die hande van ’n bekwame span onderwysers, onder andere talle boervroue uit die omgewing, laat.
Van oraloor
Die leerlinge, van gr. R tot gr. 9, kom uit ’n wye omringende gebied. Van hulle kom van besonder ver om in die skool se spesiale klas vir gestremdes onderrig te ontvang. Talle word by ooms, tannies, oumas, oupas en ander familielede in die omgewing gehuisves om in Gelukwaarts te kan skoolgaan.
Die Wilkens wil hulle voortaan toespits op boerdery met lusern, mielies en skape. Danie, wat in 2000 Vrystaatse Skoolhoof van die Jaar was en met ’n Fulbright-beurs vir ’n tyd in El Paso, Texas, as wiskunde-onderwyser gewerk het, sê die heersende rigting wat staatsonderwys in Suid-Afrika inslaan, maak hom diep bekommerd.
“Ons stelsel is heeltemal verkeerd, van grondslagfase tot op universiteitvlak. Jy kan nie kinders toelaat om met so ’n lae persentasie deur te kom nie. Ons kan nie met ’n standaard voortgaan waarop die vereiste slaagpersentasie net 30 is nie.”
Hy meen ook dit is ’n onding dat kinders net een keer in ’n drie-jaar-fase gedruip mag word. “Dit maak dat hulle doodeenvoudig nie leer nie, maar net sit en wag om na die volgende fase deurgesit te word.”
Relevant
Hy sal graag wil sien dat Gelukwaarts, wat ’n gemiddelde slaagpersentasie van rondom 94 oor al die grade handhaaf, na sy oorspronklike formaat as landbou-en-hotelskool terug verander word, “sodat die kinders vaardighede geleer kan word wat hulle ná skool kan gebruik.
“Ons was vir vyf jaar ’n landbou-en-hotelskool voordat ons na ’n akademiese skool omgeskakel is. Die meeste van ons kinders is plaaskinders; dis die mark waaraan ons voorsien.
“Daar is vir Gelukwaarts oorgenoeg ruimte om sy leerlinge weer met landbou-opleiding toe te rus. Daar is juis ’n tekort aan geskoolde arbeid in die landbou en ’n landwye tekort aan landbouskole,” sê hy. Sy opvolger moet nog aangewys word.