
Suid-Afrika se swakker ekonomiese klimaat het ’n demper geplaas op deelname aan vanjaar se 41ste perde-uithourit op Fauresmith.
Mnr. Gideon Keyser, voorsitter van die Uithouritvereniging van Suid-Afrika (Erasa), sê sy organisasie het sedert die begin van die jaar ’n afname in ledetal ondervind. “Ten spyte daarvan dat uithouritte die goedkoopste van al die perdesporte is, bly dit duur. Wanneer deelnemers se finansies druk, is deelname van die eerste items op die begroting wat besnoei word,” sê Keyser.
Nietemin is Keyser tevrede dat net ses minder inskrywings as die 410 van verlede jaar ontvang is.
Nóg ’n bemoedigende aspek vir hom is die vordering wat die ontwikkelingsruiters toon. Volgens hom was die groep ruiters se sukses op die onlangse SA Internasionale Uitdaag-byeenkoms op Parys te sien toe ontwikkelingspanne van elke provinsie deelgeneem het.
Die ontwikkeling van die kampterrein by Fauresmith se skouterrein is teen ’n koste van sowat R1,5 miljoen afgehandel. Dit behels onder meer die verskaffing van ablusiegeriewe en ’n warmwatertoestel wat al drie badkamers van warm water voorsien.
Die uitleg van die kampterrein maak onder meer voorsiening vir staanplekke en brandpaaie, wat nodig was vir die verkryging van ’n veiligheidsklaring.
Mnr. Jacques Augustyn, die byeenkoms se amptelike ritmeester, sê die uithourit se roete is vanjaar aangepas om die toename in die deelnemertal van die afgelope jare te verreken.
’n Volledige artikel oor die uithourit verskyn later in Landbouweekblad.
Byskrif: Van links is mnr. Jacques Augustyn, die ritmeester, me. Charmaine Nickisson, hoofbestuurder van die Uithouritvereniging van Suid-Afrika (Erasa), mnr. Greg Miles (spanbestuurder van Lesotho), dr. Glynn Catton van Stride en mnr. Gideon Keyser, voorsitter van Erasa. Foto: Johan Norval