
Die belangrikste vraag oor hidrobreking in Suid-Afrika is óf hier skaliegas is.
Daarom moet eksplorasieboorgate nou geboor word, sê mnr. Andrew Stone, uitvoerende direkteur van die Amerikaanse Trust vir Grondwater, 'n nie-regeringsorganisasie wat hom vir die beskerming van grondwater beywer.
Hy het by 'n simposium oor sogenaamde onkonvensionele gas gepraat wat die grondwaterafdeling van die Geologiese Vereniging van Suid-Afrika en die mynwaterafdeling van die Waterinstituut van Suider-Afrika met die steun van die Waternavorsingskommissie gereël het.
“Ons kan nie as waterkenners vorentoe gaan en vir alles nee sê nie. Ons kan nie verwag dat alles dieselfde bly nie. Ons moet op die doeltreffendste moontlike manier daarby aanpas.”
Stone is bekommerd dat Suid-Afrikaners se opinies oor hidrobreking op anekdotes gegrond is en nie feite nie. “Die belangrikste vir Suid-Afrika is om hidrobreking in 'n breër sosiaal-ekonomiese konteks te sien en om ook na die globale energiekonteks te kyk.”
Hy beskou mnr. Ernest Pringle, voorsitter van Agri Oos-Kaap, se benadering as pragmaties en het 'n aanhaling van Pringle gebruik: “Ons kan nie hidrobreking toelaat totdat redelike stappe nie gedoen is om aan ons eise te voldoen en ons vrese te besweer nie.”
Stone het gesê nie alle aspekte van lewe in die Karoo is idillies nie, daar is steeds minderbevoorregte gebiede waar groeigeleenthede nodig is. Oor mense se besware dat daar nie water in die Karoo is nie, het hy gesê ingenieurs kan oplossings daarvoor vind.
Sy siening van betogings téén hidrobreking in lande soos Brittanje, Romenië en Australië is dat verkeerde inligting versprei word, moontlik deur groepe wat gekant is teen internasionale ondernemings. En volgens hom het lande wat hidrobreking verbied het, dit met verskuilde agendas gedoen, soos Frankryk wat glo sy atoomenergiebedryf wil beskerm.
Volgens Stone kan Suid-Afrika nie wag totdat nóg navorsing oor hidrobreking gedoen is nie en is sterk leierskap nou nodig om mense bymekaar te bring. “Hoe gouer julle begin, hoe beter. Jul skaliegas-skip sit in die hawe vas."