
Die indien van die tweede rondte grondeise sal met ’n ekstra twee jaar tot 2021 verleng word, het die Regering aangedui.
Die Wysigingswetsontwerp op die Herstel van Grondregte, wat die eisproses in 2014 vir ’n tydperk van vyf jaar heroopgestel het, is verlede jaar deur die Grondwethof as ongeldig verklaar omdat die Parlement, spesifiek die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), versuim het om behoorlike openbare verhore te hou in sy haas om die wetgewing vóór die 2014-verkiesing afgehandel te kry. Die Parlement het 24 maande gekry om die wetgewing reg te stel.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het voorheen aangedui dat die afsnytydperk vir die indiening van nuwe eise verleng sal word om op te maak vir die tyd toe mense vanweë die hofuitspraak nie eise kon indien nie.
Tweede kwartaal in 2017
Volgens die kennisgewing in die Staatskoerant sal die voorgestelde wetsontwerp in die tweede kwartaal van 2017 in die Parlement oorweeg word.
Mnr. Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by AfriSake, sê grondeienaars moet hulself vergewis van die inhoud van die wetsontwerp sodra dit beskikbaar is en daarop kommentaar lewer.
Omdat die tydraamwerk vir die indiening van eise van 2019 tot 2021 verleng sal word, gaan dit besonder lank neem om die grondhervormingsproses af te handel, aangesien sekere eise van 1998 steeds nie gefinaliseer is nie. Hy het bygevoeg dat kennis geneem moet word dat die ANC tans besig is om sy plan van radikale maatskaplik-ekonomiese transformasie te implementeer en dat die grondkwessie die middelpunt daarvan is.