
Hoewel die kans goed lyk dat die El Niño-weerverskynsel hierdie somer kan oorheers, meen voorspellers in dié stadium dit behoort net van swak of hoogstens medium-intensiteit te wees.
Die twee grootkop-voorspellers in die internasionale arena, die Amerikaanse Climate Prediction Centre en die Australiese Weerburo, het in hul jongste maandverslae El Niño kanse van onderskeidelik 65% en 70% gegee om in hierdie (Suidelike Halfrond) somer te ontwikkel, en tot rondom ons herfs te duur.
Beide wys egter daarop dat hoewel stygings in die seetemperatuur nou al sedert begin November op die ontwikkeling van 'n El Niño dui, het die atmosferiese aanduiders nog nie heeltemal so sterk ingeskop nie.
Die seetemperature alleen mag op swak El Niño-toestande dui, maar die patrone van wind en reënval dui nog nie op ’n duidelike El Niño nie, sê die Amerikaners in hul maandverslag. Die twee atmosferiese aanduiders wat die voorspellers dophou, is die sterkte van handelswinde (“trade winds”) oor die tropiese Stille Oseaan en wolkbedekking oor die ewenaar in daardie gebiede.
Die meeste voorspel-modelle het teen begin Desember op swak El Niño-vlakke vanaf November 2014 tot Januarie 2015 gedui, wat teen vroeg 2015 tot bokant die El Niño-drumpel sou styg. “Die voorspellers se konsensus is dat ’n swak El Niño verwag kan word, as een wel sou ontwikkel,” het die Climate Prediction Centre gesê.
Die Aussies het teen November al hul ENSO-aanduider (wat op die stand van El Niño of La Niña dui) van “dophou” na “waaksaam” opgeskuif. Teen Desember het hulle gemeen daar is ’n 70% kans dat ’n amptelike El Niño binne die volgende paar maande kan begin heers.
Dié weerburo het bygevoeg dat, ongeag of ’n volskaalse El Niño ontwikkel of nie, die weer in Australië, Asië, Suid-Amerika en Suider-Afrika reeds die laaste tyd simptome begin wys het wat gewoonlik met dié verskynsel gepaard gaan.
Hul klimaatvooruitskouing vir die tydperk van Desember tot Februarie dui op ’n waarskynlik droër en warmer somer as normaalweg in baie dele van Australië.
El Niño gaan dikwels ook met ’n droër en warmer somer as gewoonlik in Suid-Afrika se somerreënvalgebied gepaard.
Bron:
Die heersende Oseaniese Niño-indeks (ONI) is nie naby die vlakke van vorige sterk El Niño-verskynsels, soos in 2009/’10 nie. Grafiek: www.cpc.ncep.noaa.gov