
Internasionale klimaatmodelle wys dat ’n swak tot middelmatige El Niño in die komende seisoen kan ontwikkel. Die voorspellers voeg egter by dat die akkuraatheid van hul modelle hierdie tyd van die jaar besonder laag is.
Hulle kan wel sê die moontlikheid van nog ’n La Niña, soos die swak een wat Suid-Afrika se somersaaigebiede die afgelope maande uit ’n rekorddroogte verlos het, is baie skraal. “Met La Niña in die truspieëltjie, verwag voorspellers dat neutrale toestande deur die lente gaan voortduur. Daarna is daar ’n toenemende kans dat El Niño teen laat somer gaan verskyn,” skryf dr. Emily Becker van die Amerikaanse klimaatsagentskap in hul blog.
Mnr. Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê dié voorspelling se implikasie vir Suid-Afrika is onder meer lae reënval vir die Wes-Kaap in die eerste deel van die winter. Dit kan vanaf midwinter meer reën vir dié provinsie bring.
Die meeste damme in die somerreëngebied is nou gevul, maar ondergrondse akwifere is meestal in ’n kritieke toestand, sê hy. Teen middel verlede week was daar steeds geen reën oor die Noord-Kaap, Noordwes en die noorde van die Wes-Kaap nie.