
Elke graanboer in Suid-Afrika verskaf voedsel aan 6 000 mense in die land, aldus mnr. Derek Hanekom, Adjunkminister van Wetenskap en Tegnologie.
Hy het tydens Graan SA se jaarlikse kongres op Nampopark aan afgevaardigdes gesê dié feit beklemtoon die belangrike rol wat die organisasie en sy lede as voedselprodusente speel.
Volgens Hanekom het die Regering onlangs ’n bedrag van R4 miljard opsy gesit om kleinboere by te staan en hul produktiwiteit te verhoog. Dít ondersteun die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se “Zero Hunger”-projek, waarvan die hoofrol is om kleinboere in staat te stel om doeltreffend en volhoubaar te boer.
“Laat ons dus nie onder ’n wanindruk hieroor verkeer nie: die jaar 2012 sal ’n jaar van aksie in die landbou wees, met ’n groter fokus op voedselproduksie,” sê Hanekom.
Verhoog produksie
Volgens Hanekom is verhoogde produksie in Afrika en in Suid-Afrika baie belangrik, aangesien die kontinent se voedselproduksie oor die afgelope paar dekades nie op dieselfde vlak as dié van die res van die wêreld toegeneem het nie.
Hanekom maak dié stelling deur mnr. John Kufour, die president van Ghana en vanjaar se wenner van die Wêreldvoedselprys, aan te haal: “Voedselproduksie het wêreldwyd teen 140% oor die afgelope paar dekades toegeneem, maar die syfers vir Afrika suid van die Sahara dui terselfdertyd ’n daling aan.”
Kufour skryf dié agterstand toe aan die feit dat Afrika tot dusver aan die agterspeen moes suig wat toegang tot tegnologie betref. Derhalwe meen hy wetenskap en tegnologie moet ’n groter rol op die kontinent vervul.
Winsgewendheid
Hanekom sê hoewel verhoogde produktiwiteit sentraal staan in pogings om voedselsekerheid te bevorder, is dit onregverdig om van boere te verwag om winsgewendheid in te boet om verhoogde produksie en goedkoper voedsel daar te stel.
Met dit in gedagte het Hanekom gesê die Regering is deurentyd besig om deur middel van die Wêreldhandelsorganisasie teen subsidies te baklei en om marktoegang tot produkte te verbeter.
Nog ’n metode van verhoogde produksie wat volgens die Regering oorweeg word, is om meer landerye onder besproeiing te kry.
Hanekom het boere aangemoedig om enige verdagte aktiwiteite aan te meld wat mededingendheid en voedselsekerheid in die mark verwring. Hy sê die staat kon reeds met behulp van die Mededingingskommissie voedselpryse verlaag.
“Ons het ook kennis geneem daarvan dat boere ál meer graan op plase opberg. Dit is nie net tot voordeel van nasionale voedselsekerheid nie, maar dit plaas ook afwaartse druk op die koste van graan in Suid-Afrika.”
7 Maart 2012