
Suid-Afrika se ekonomie kreun tans onder die las van ’n sterk dollar en die vervaardiging- en kommoditeitsektor wat onderpresteer weens die heersende energietekort.
Maar kragopwekking uit biomassa blyk ’n warm patat te wees wat Eskom, die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) of die Regering blitsvinnig van die een na die ander aangee, terwyl boere se planne in die lug hang.
Landbouweekblad het vroeër vandeesmaand berig dat die suikerrietbedryfgereed staan om aanlegte te bou wat gesamentlik 850 MW elektrisiteit binne twee jaar kan lewer. Al wat hulle nodig het, is die ja-woord van dié drie instellings.
Eskom wag nog op die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) om opwekkingspermitte uit te reik aan private maatskappye wat meen hulle kan ’n verskil maak.
Mnr. Charles Hlabele, woordvoerder van Nersa, het aan Landbouweekblad gesê me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Energie, moet volgens die Wet op die Regulering van Elektrisiteit (Wet 4 van 2006) eers vasstel wat die elektrisiteitsbehoefte is voordat daar dan in oorleg met Nersa bepaal word hoeveel opwekkingspermitte aan Eskom of private kragvoorsieners toegeken word.
Hlabele sê hoewel etlike maatskappye, soos Mondi, TSB Suiker, Sappi en uMfolozi, reeds opwekkingspermitte vir aanlegte het, produseer dié aanlegte hoofsaaklik elektrisiteit vir hul eie verbruik en verkoop hulle slegs hul oorskot elektrisiteit aan Eskom.
Hy sê die probleem kom wanneer boere of landbou-ondernemings krag wil opwek met die suiwer doel om dit te verkoop.
Nersa se reëls bepaal dat daar slegs toestemming vir só ’n aanleg gegee mag word as daar ’n ooreenkoms met groot kopers, soos Eskom of ’n munisipaliteit, is om krag op lang termyn te koop. Die meeste munisipaliteite se regulasies verbied hulle egter om sulke ooreenkomste aan te gaan en Eskom mag nie sonder die toestemming van die minister sulke ooreenkomste aangaan nie.
Intussen is die enigste uitweg vir boere en landboubesighede wat as opwekkingsvennote wil optree, om te tender vir langtermyn verskaffingsooreenkomste wat nou as noodmaatreël deur die Regering ingestel is. Hlabele sê boere moet met Eskom en die departement van energiesake skakel om uit te vind oor die tenderproses.