
Alle aanduidings is dat die eerste besendings bloutong-enstof eers teen die einde November 2014 beskikbaar sal wees, sê mnr. Harry Prinsloo, nasionale voorsitter van die NKKV.
Prinsloo sê die NWKV neem kennis van ’n nuusverklaring van Bayer Dieregesondheid met betrekking tot die beskikbaarheid van entstowwe van Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP). Alle aanduidings is dat die eerste besendings bloutong-enstof eers einde November 2014 beskikbaar sal wees. Groot kommer heers onder produsente of dit betyds sal wees om hul vee teen die siekte te ent, sê Prinsloo.
Beskikbaarheid van belangrike entstowwe was reeds verlede jaar 'n groot probleem met opgradering van gerieww by die OBP; tog blyk dit dat die probleem ’n jaar later steeds nie opgelos is nie. Die NWKV en die Dieregesondheidsforum is in voortdurende gesprek met die verspreiders en Onderstepoort Biologiese Produkte oor die tekorte aan belangrike entstowwe.
Prinsloo sê produsente word sterk aangeraai om op die volgende te let indien bloutong-entstof beskikbaar raak:
* Vermy die enting van dragtige ooie gedurende die eerste trimester (eerste 1/3) van dragtigheid.
* Moet nooit die drie entstowwe (A,B en C) meng en gelyktydig toedien nie, maar dien die onderskeie entstowwe minstens drie weke uitmekaar toe.
* Vermy sover moontlik die inenting van lammers van ooie wat bloutong geënt was onder die ouderdom van ses maande. Volgens prof. Gareth Bath mag produsente tog oorweeg om lentelammers vanaf die ouderdom van 2 maande (maar verkieslik 3 maande) in gevalle van nood in te ent sodat immuniteit betyds opgebou kan word voordat die hoogseisoen vir die voorkoms van bloutong in meeste gebiede aanbreek.
* Wees bedag daarop dat veral jong ramme wat vir die eerste keer teen bloutong ingeënt word, ‘n koorsreaksie op die entsof mag toon wat kan lei tot tydelike steriliteit of lae vrugbaarheid wat vir ‘n lang periode (tot twee maande) mag duur. Toets dus sulke ramme vir vrugbaarheid, veral vervangingsramme.
* Vermy laagliggende gebiede soos vleie (veral saans) om blootstelling aan muggies te beperk.
* Behandeling van diere met pirethroid kan help om diere teen muggies te beskerm.
* Wees bewus daarvan dat die tyd van voorkoms van Bloutong van gebied tot gebied in Suid Afrika mag verskil.
Produsente word sterk aanbeveel om met hul plaaslike veearts te konsulteer om seker te maak van die korrekte dieregesondheidspraktyke.