
Ondanks versekeringe van Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) dat nuwe voorrade bloutong-entstof teen die einde van November weer beskikbaar sou wees, het daar dadels van gekom.
Mnr. Kelvyn Breetzke, hoofbestuurder handel van BKB, sê daar is nie ’n enkele bottel van die entstof by dié maatskappy se handelstakke beskikbaar nie. “Ná die wydverspreide reëns word ons oorval met navrae van boere oor wanneer dit op die rakke sal wees aangesien hulle reeds meer as ’n maand gelede met inenting moes begin het om die immuniteit van diere, wanneer muggies vanaf die einde van Januarie begin uitbroei, te verseker.”
Breetzke het vroeër gewaarsku dat die vertraging met die lewering van bloutongentstof ’n tydbom is wat ernstige gevolge vir die kleinveebedryf inhou.
Mnr. Leon de Beer, hoofbestuurder van die NWKV, sê hy is stomgeslaan dat daar niks van gekom het van die beloftes dat die entstof reeds beskikbaar sou wees nie. “Dit is die tweede jaar wat daar probleme met die lewering is wat toegeskryf word aan die opgradering van die OBP-laboratorium.”
De Beer sê hy het verneem dat probleme rondom die registrasie van die entstof dat indien net een van die stamme beskikbaar gestel is met die Registrateur van Dieregesondheid uitgeklaar is. Hy kon egter nie sê of dit wel beskikbaar is nie.
Me. Marzanne Polydorou, sekretaris van die Nasionale Dieregesondheidsforum, sê tydens ’n vergadering op 21 November het OBP die versekering gegee dat die C-stam op 28 November in die Oos- Wes- en Noord-Kaap beskikbaar gestel sou word en die A- en B-stamme kort daarna ook vrygestel sou word.
* Ondanks verskeie pogings kon Landbouweekblad nie daarin slaag om kommentaar van dr. Jacob Modumo, die sake-ontwikkelingsbeampte van OBP, te kry nie. Hoewel hy sy selfoon beantwoord het, het hy dit afskakel toe hy verneem waaroor die navraag is.