
Vyftien jaar het al verloop sedert die nasionale tesourie die eerste keer geld toegewys het vir ’n fabriek waar entstof teen bek-en-klouseer vervaardig kan word, maar tot dusver is nog nie eens ’n sloot vir die fondament gegrawe nie.
Só sê mnr. Noko Masipa, van die DA en lid van die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou.
Volgens Masipa het me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, in antwoord op ’n parlementêre vraag bevestig geen vordering is gemaak met die eerste R214 miljoen wat die nasionale tesourie in die 2007-’08-boekjaar aan die projek toegewys het nie. “Daarna is nog R400 miljoen in die 2019-’20-boekjaar aan die projek toegewys,” sê hy.
Die projek is volgens hom nou eers by die punt waar diensverskaffers aangestel word.
“Al maak die verduideliking wat hiervoor gegee is wetenskaplik sin, moes die stappe wat nodig was om aan internasionale standaarde te voldoen nie langer as ’n dekade geduur het nie.”
Die internasionale organisasie vir dieregesondheidhet reeds in 2019 Suid-Afrika se bek-en-klouseer-vrye status terug getrek.
Uitbrekings van bek-en-klouseer is vanjaar al herhaaldelik aangekondig. Twee weke gelede het die aantal uitbrekings volgens die departement van landbou op 91 gestaan.
In Noordwes alleen is 14 nuwe gevalle onlangs aangemeld. Daar is ook gevalle aangemeld in KwaZulu-Natal, Gauteng en die Vrystaat.
“Dit is ondenkbaar dat die departement voete sleep met hierdie projek,” sê Masipa.
Die DA versoek nou dat ondersoek gedoen word om vas te stel wat aanleiding gegee het tot die vertragings met die oprigting van die fabriek.
“Dit wil voorkom of die departement oorgerus is en vergeet het van die gevare van bek-en-klouseer,” sê Masipa.