
'n Namibiese wildplaaseienaar meen hy kan R1,3 miljard vir sy lodge kry as Mala-Mala in Suid-Afrika vir R1 miljard verkoop is.
Rapport en die Namibiese koerant Die Republikein berig mnr. Gert Joubert, eienaar van die private wildreservaat Erindi, wil R1,3 miljard vir dié plaas van 70 719 ha hê.
Joubert se prys berus op 'n skamele R20 000 per hektaar. Plase soos Mala-Mala in die Laeveld het teen R70 000 per hektaar van eienaar verwissel. Mala-Mala is onlangs vir meer as R1 miljard aan die Suid-Afrikaanse Regring verkoop ná 'n grondeis.
Mnr. Stephan Alberts, eiendomsagent van die eiendomswebwerf LandWatch, het aan verskeie publikasies gsê Joubert wil vasstel hoeveel hy vir Erindi kan kry. Daar is sowat 20 000 stuks wild op Erindi en Joubert het glo verbeterings ter waarde van R100 miljoen aangebring.
Rendement op belegging
Joubert meen die enigste manier waarop hy iets op dié belegging gaan terugkry, is om die eiendom te verkoop.
Dié prys is beslis nie haalbaar nie, sê mnr. Pine Pienaar, uitvoerende hoof van Alpix, spesialiste in die waardasie van landbougrond. ’n Bekende wildboer, mnr. Piet du Toit, het in 2011 altesaam R5000 per hektaar vir 'n wildplaas sowat 70 km buite Windhoek betaal.
Pienaar meen egter Joubert begaan 'n fout, omdat koste, soos insetkoste en drakrag, nie op die waarde dui nie, want ligging is die belangrikste faktor. “Die mark kyk na ligging,” sê hy. “ ‘n Groot verskil bestaan tussen pryse in die Laeveld en dié in die woestyn.”
Bronne:
Rapport (9 Februarie 2014)
Die Republikein