Werkers uit dié buurland kon die afgelope 14 jaar met spesiale permitte vir asielsoekers, die sogenoemde ZEP-permitte, wettig in Suid-Afrika werk. Die regering wil nou wegdoen met dié permitte en die werkers moet om alternatiewe permitte aansoek doen.
Die inwerkingtredingsdatum is vroeër vandeesmaand van Desember vanjaar tot Junie aanstaande jaar uitgestel. Volgens me. Lebogang Sethusa, hoof van arbeid en ontwikkeling by Agri SA se sentrum van uitnemendheid, is baie houers van ZEP-permitte deel van die seisoenale en heeltydse arbeidsmag in die Suid-Afrikaanse landbou.
Volgens haar sal daar ’n beduidende impak wees indien alternatiewe permitte nie aan dié werkers toegeken word nie. Die ZEP-permitte is van 2008 tot 2009 aan hoofsaaklik Zimbabwiese burgers toegestaan sodat hulle in Suid-Afrika kan werk en studeer.