Vir die volgende vyf jaar gaan Eskom jaarliks ten minste ’n 20%-tariefverhoging nodig hê om te oorleef, aldus mnr. Arthur Smith, die bestuurder van Eskom se kontaksentrum.
Hy het Donderdag (8 September 2011) op Agri Gauteng se jaarlikse kongres in Pretoria gesê dit lyk asof die verhogings wat reeds ingestel is wel verbruikers se kragverbruik verlaag het.
Hy sê Suid-Afrika is tans 15de op die lys van lande wie se krag die duurste is. “Ons krag kos sowat R8,55 per kilowatt-uur, terwyl Italië s’n op R19,70 per kilowatt-uur lê.”
Plaasprotokol
Smith sê hulle is baie streng oor die toepassing van die plaasprotokol-ooreenkoms wat hulle met Agri SA aangegaan het. Hy moedig enige boer aan om kontrakteurs en Eskom-werknemers wat nie aan dié protokol gehoor gee nie, by hulle aan te meld.
“Ons is so ernstig hieroor dat ons ’n onderneming onderteken het dat dissiplinêre stappe enige werknemer wat nie die protokol nakom nie, in die gesig sal staar. Verder het ons kontrakteurs ook gemaan dat hul kontrakte summier beëindig kan word.
"Ons het boere se hulp nodig om oortredings aan te meld, want ons kan nie optree as ’n klagte nie aangemeld word nie,” verduidelik Smith.
Kragdiefstal
Smith sê hulle is ernstig oor die kwessie van kragdiefstal en as hulle onreëlmatighede in ’n boer se kragverbruik sien, moet hulle ’n oudit doen.
“Tot dusver het nog nie een hofsaak gevolg waar ons onreëlmatighede gevind het nie, maar baie geld word aan Eskom geskuld.”
Hy het weer die skuld vir aantygings wat die kragvoorsiener vroeër vanjaar oor kragdiefstal in die landbou gemaak het, voor die deur van die media gelê.
8 September 2011