
AfriForum het 'n versoek aan Eskom gerig om te vra dat die kragverskaffer boere se veiligheid in ag moet neem met kragafsluitings. Dit volg nadat mnr. Douw Venter, ’n boer van die Heidelberg-distrik, gekla het omdat sy krag sonder kennisgewing deur die kragreus afgesny is.
Venter het aan 'n Eskom-operateur verduidelik dat sy rekening sover sy kennis strek op datum is en gevra dat die krag aangesit moet word omdat dit gevaarlik is op die plaas. Die operateur het toe geantwoord dat Eskom nie omgee oor plaasaanvalle nie en dat hulle net moet betaal. Venter en sy vrou het geen kennisgewing ontvang oor die afsluiting nie en moes 24 uur wag voordat die kragtoevoer herstel is.
“Eskom behoort billik te wees deur 14 dae-kennisgewings te stuur van beplande kragonderbrekings. Veral op landelike gebiede moet daar voorsorgmaatreëls getref word wanneer dit kom by veiligheid. Ek kan nie verstaan waarom Eskom nie oop kaarte hieroor wil speel en die klankopname van die oproep aan ons wil gee, soos hulle ingestem het om te doen nie,” het mnr. Marcus Pawson, AfriForum se koördineerder in Suid-Gauteng, gesê.
AfriForum het ook versoek dat Eskom eerder doeltreffende kredietbeheer toepas, en wanneer nodig, fondse van verbruikers sal verhaal. AfriForum het finaal versoek dat daar noodnommers beskikbaar gestel moet word om op noodsituasies te kan reageer en dat die nommer ook 24 uur beman moet word.