Terwyl pres. Cyril Ramaphosa te midde van herhaaldelike beurtkrag einde Julie aksieplanne aangekondig het om die kragkrisis te beëindig, is daar nog heelwat haakplekke en onduidelikhede in die administratiewe prosesse. Frustrasies blyk ook van provinsie tot provinsie te verskil.
Mnr. Chris Schutte, direkteur van Sonfin, wat in die oprigting van sonkragaanlegte spesialiseer, sê dit duur steeds verskriklik lank vir ’n boer se aansoek om deur Eskom verwerk te word.
“Aanvanklik het Eskom se eenheid vir netwerktoegang aansoeke vir netwerkgekoppelde kragopwekking behartig, maar nou moet ’n mens deur ’n oproepsentrum aansoek doen. Jou aansoek word dan aan iemand toegedeel en die meeste van die tyd weet jy nie wie by Eskom dit hanteer nie. As jy wil opvolg oor die vordering, kan dit twee tot drie maande duur om net uit te vind wie jou aansoek hanteer.”