Kommer heers oor die druk wat tans op die land se kragnetwerk geplaas word en Eskom waarsku teen onderbrekings.
Luidens ’n verklaring ervaar die kragreus veral dié week probleme met voorsiening tydens spitstyd tussen 17:00 en 21:00 in die aand.
Volgens ‘n berig in Beeld (10 Januarie 2012), werk Eskom tans met sowat 14%, of 5 000 megawatt, minder kragkapasiteit as gewoonlik. Dit word toegeskryf aan geskeduleerde instandhoudingswerk aan kragsentrales asook allerlei tegniese probleme wat ondervind word.
Me. Hillary Joffe, woordvoerder, sê hulle moes Maandagmiddag (9 Januarie 2012) – voor spitstyd aangebreek het – van die noodreserwekrag begin gebruik. Van die aluminiumsmelterye is glo gevra om hul aanlegte tydelik af te skakel.
Impak op boerderybedrywighede
Mnr. Arthur Smith, Eskom se noordelike verteenwoordiger vir landbou, sê die situasie wat Maandagmiddag geheers het, is intussen opgelos en hulle hoop dat kragverbruik sal stabiliseer.
Hy sê hulle kan enige bekommernisse van boere se kant verstaan, “want as jy besig is om, byvoorbeeld, tabakblare uit te droog, kan jy nie net eenvoudig die stelsel afskakel nie.”
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, sê hulle het nog geen amptelike kennisgewing van Eskom ontvang wat hulle inlig dat die kragnetwerk onder groot druk verkeer nie. Hy sê weens die prys van krag het baie boere al hul kraggebruik gesny, maar nóg ’n paar planne kan gemaak word om ’n boerdery se kragverbruik tydelik of heeltyds te verminder.
Een van sy voorgestelde tydelike planne is om die gebruik van koelkamers te optimaliseer. “Pleks van om twee koelkamers wat elk halfvol is te gebruik, kan een koelkamer gebruik word, terwyl slegs die belangrikste komponente van die ander koelkamer aangeskakel bly.”
Eskom het reeds verlede jaar gewaarsku dat die kragvoorraad tydens die eerste paar maande van vanjaar knap gaan wees, sodat alle stelsels versien en nagegaan kan word. Die land gaan waarskynlik vir die volgende twee jaar nog ’n benarde kragsituasie te ondervind.
Bron: Beeld
10 Januarie 2012