Geen bedryf in Suid-Afrika kan Eskom se jongste voorstel van ‘n 50% kragprys styging oor die volgende vyf jaar oorleef nie, sê Agri SA.
Luidens ‘n berig op Sake24.com het mnr. Paul O’Flaherty, Eskom se finansiële hoof, dié aankondiging in die Parlement gemaak.
Hy het ná ‘n voorlegging aan die protefeuljekomitee vir openbare ondernemings gesê dié voorstel beteken dat kragpryse van 60c per kilowatt-uur (kWh) tot 90c per kWh sal moet styg.
O’Flaherty sê dié verhoging is nodig om die skuld wat die kragreus vir die oprigting van nuwe kragstasies aangegaan het, te delg. Eskom is van plan om in Julie vanjaar weer vir stewige tariefverhogings aansoek te doen.
Kleiner styging
Die Nasionale Energiereguleerder, Nersa, het vroeër die jaar ‘n kragprysverhoging van 16% aan Eskom toegestaan. Die kragvoorsiener het vir ‘n 25,9% verhoging aansoek gedoen, maar kon dié laer verhoging hanteer weens die R8 miljard wins wat hy gemaak het.
In Maart 2011 het O’Flaherty gesê sowat R300 miljard is nodig vir nog bouwerk aan kragstasies. Hy het Dinsdag gesê tot Maart vanjaar is R180 miljard se finansiering bekom.
Insetkoste vir besproeiingsboere
Mnr. Dawie Maree, ekonoom vir Agri SA, sê: “Geen boer, geen bedryf, geen verbruiker of verwerker kan tans só ‘n verhoging bekostig nie.” Hy sê minimale kragkostes is tans sowat 25% van ‘n besproeiingsboer se insetkoste. Met só ‘n verhoging sal krag die helfte van ‘n besproeiingsboer se insetkoste uitmaak.
Maree sê die organisasie sal alles moontlik van sy kant af doen om seker te maak die landboubedryf se saak word voor Nersa gestel wanneer die nuwe verhogingsaansoek aangehoor word. Verder is die organisasie tans in die proses om deur middel van die Departemente van Landbou en Energie en die Landboubemarkingsraad ‘n voorlegging aan die Kabinet, wat verligting vir boere met kragpryse vra, voor te berei.
23 Mei 2012