Die toekenning van geld van die Afrika-ontwikkelingsbank (AfDB) aan Eskom se windplaasprojek vorder fluks.
Luidens ’n berig op Engineering News (27 September 2011) is die finansiering van dié leningsooreenkoms, wat Sondag (25 September 2011) aangekondig is, al voltooi.
Die bank het bekend gemaak dat hy ’n lening van $365 miljoen aan die kragvoorsiener toegestaan het om die windplaas van 100 megawatt te help finansier.
Dié bedrag bestaan uit $265 miljoen van die bank se eie geld en $100 miljoen van die Skoon-tegnologiefonds (CTF). Dié geld sal gebruik word saam met $700 miljoen wat die Wêreldbank in April verlede jaar aan Eskom toegeken het. Die Wêreldbank het ’n lening van altesame $3,75 miljard aan Eskom toegestaan.
Die volgende stadium van die projek, om sleutelkomponente vir die ontwikkeling van die windplaas aan te skaf, is tans onderweg.
Volgende jaar
Mnr. Hilary Joffe, Eskom se woordvoerder, sê die vooraf-identifisering vir die verskaffing en installering van die windturbines het reeds begin.
Met die ondertekening van die leningsooreenkoms met die AfDB in Washington, Amerika, het Eskom aangedui dat bouwerk aan die windplaas, naby Vredendal in die Wes-Kaap, reeds vroeg volgende jaar sal begin.
Verdere geld word tans gesoek vir die finansiering van ’n solarpark van 100 megawatt naby Upington in die Noord-Kaap. Die kragvoorsiener is reeds deur belangstellendes in dié verband genader.
Bron: Engineering News
27 September 2011