
Die moontlikheid van geskrewe ooreenkomste van verblyfreg tussen plaasbewoner en –eienaar kan ’n briljante skuif wees om probleme met die bewys van verblyfreg in die toekoms uit te skakel, meen die Openbare Beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane.
Mkhwebane het gereageer op ’n vraag van die portefeuljekomitee van landelike ontwikkeling en grondhervorming oor die moontlikheid om dit verpligtend te maak dat ’n verblyfooreenkoms tussen die plaasbewoner en –eienaar onderteken moet word, om uitsettings te verhoed.
Die Parlement is tans besig om insette te kry oor moontlike wysigings wat in die Wysigingswetsontwerp op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Esta) opgeneem kan word om die verblyfreg van plaaswerkers en –bewonders beter te beskerm.
Mnr. Mncedisi Filtane, UDM-LP, het aan die OB uitgewys dat hy geen klousule in die wetsontwerp sien wat voorsiening maak dat ’n verblyfooreenkoms onderteken moet word om verblyfreg te verseker nie. Hy het aangevoer dat wanneer grond of verblyf ter sprake is, daar gewoonlik getekende ooreenkomste van toepassing is.
“Dwing die wetgewing boere om geskrewe ooreenkomste te hê? Wanneer mense nie geskrewe verblyfooreenkomste het nie, kan hulle maklik van ’n plaas gesit word.”
Mkhwebane het gesê ’n skriftelike ooreenkoms kan help om aan te dui wat die regte van die partye is. Dit gebeur dat geen skriftelike bewyse van verblyfreg tydens dispute getoon kan word nie. Dit kom baie keer neer op die plaaseienaar se woord teenoor die van die plaasbewoner of –werker, het sy gesê.
“Ons het ’n saak waar ’n ou man sê hy bly al sedert die 1970’s op die plaas en was gedwing om ’n dokument te onderteken wat hom van die plaas afsit.” Sy het egter uitgelig dat dit ’n uitdaging sal wees om skriftelike bewyse van verblyf te bewerkstellig vir diegene wie reeds vir dekades op plase bly wie se families reeds gesterf het.
Familie
Plaaswerkers se reg tot familielewe is ’n grondwetlike reg, maar die gevaar bestaan dat ’n breë definisie van familie die reg van heenkome en ekonomiese welsyn van die plaasboer, -werker en –bewoner kan ontwrig, sê mnr. Thomas Walters, die Demokratiese Alliansie se skaduminister vir landelike ontwikkeling en grondhervorming.
Walters het aangedui dat die definisie vir familie so breed is, dat 27 van sy familielede onder Esta die reg het om by hom te bly. Die definisie in die wysigingswet beskryf ’n familie as die bewoner se gade, insluitende gemenereg gade, kinders, insluitende aangenome kinders, kleinkinders, ouers en grootouers wat afhanklikes van die bewoners is en wie saam met die bewoner op die grond bly.
Walters sê ’n breë definisie kan meebring dat ’n skuiwergat vir organe van die Regering oopgemaak word om hulle diensleweringsverpligtinge op die plaaseienaar te plaas. “Regsklarigheid moet oor die definisie ingewin word, want ons kan nie wetgewing hê wat ’n verskoning vir regeringsorgane bied om nie hulle werk te doen nie.” Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie stem saam dat ’n duidelik gedefinieerde definisie in die wetgewing geskryf moet word.