
Die definisie van ’n afhanklike wat ’n plaasbewoner wetlike verplig is om te onderhou, is goedgekeur vir insluiting by die Wysigingswetsontwerp op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Esta).
Die Parlement se portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming het na uitgebreide openbare verhore en besprekings die wysigingswetsontwerp aanvaar. Die Nasionale Vergadering moet dit nou goedkeur. Die definisie van familie en afhanklikes wat verblyfreg op plase mag hê, is ’n punt waaroor die komitee deeglik moes beraadslaag na kommer uit verskeie oorde dat ’n breë definisie onbedoelde versperrings op werksproduksie op plase kan plaas.
Mnr. Thomas Walters, die Demokratiese Alliansie (DA) se skaduminister vir landelike ontwikkeling en grondhervorming, het gesê ’n breë definisie kan ’n skuiwergat meebring vir organe van die Regering om hul verpligtinge rondom dienslewering op die plaaseienaar se skouers te plaas.
Agri SA het daarop gedui dat kommersiële plase nie onbeperkte getalle mense kan huisves nie. Uit die perspektief van die grondeienaar is dit belangrik dat absolute duidelikheid en sekerheid bestaan oor watter persone familielede van die bewoner is.
Volgens die Vereniging vir Landelike Ontwikkeling (Afra) strek die familiestruktuur oor generasies, insluitend oorledenes. Hy het uitgewys dat baie huishoudings hulself as plaasbewoners beskou, hoewel geen van die familielede op die plaas werk waar hulle woon nie. Die meeste huishoudings bestaan uit drie generasies van familielede.
Definisie
Die definisie van familie sluit nou ook ’n kind in die pleegsorg van ’n plaasbewoner in. Die definisie, soos deur die komitee gewysig, beskryf nou familie as die bewoner se gade, insluitende gemenereg-gade, kinders, insluitende aangenome kinders, pleegkinders, kleinkinders, ouers en grootouers wat afhanklikes van die bewoners is en wat saam met die bewoner op die grond bly.
’n Afhanklike is gedefinieer as ’n familielid teenoor wie die plaasbewoner ’n wetlike plig tot onderhouding het. Die Esta-wysigingswetsontwerp was in September 2015 by die Nasionale Vergadering ingedien.