
Om die verblyfsekerheid van huurarbeiders en plaasbewoners te versterk sal die staat R112 miljoen bestee om grond vir dié doel aan te koop.
Dit is in lyn met wysigings in die Wysigingswetsontwerp op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Esta) wat binnekort sy laaste draai in die Nasionale Vergadering gaan maak vir goedkeuring om na pres. Jacob Zuma vir bekragtiging gestuur te word. Dié wetgewing fokus op die regulering van plaasbewoners, om hul regte te verbeter en alternatiewe oplossings vir bewoning te bied.
Dr. Wallace Mgoqi, kommissaris van die Kommissie vir Geslagsgelykheid, het by openbare verhore rakende die wetgewing voorgestel dat die Regering daarop moet fokus om plaaswerkers en -bewoners te bemagtig deur van hulle grondeienaars te maak.
Grond aan plaasbewoners
Mnr. Mcebesi Skwatsha, adjunkminister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het by die begrotingsdebat van die departement gesê daar word beplan om oor die mediumtermyn 1 434 eise van huurarbeiders af te handel en om ten minste 9 600 hektaar aan huurarbeiders en plaasbewoners toe te ken. Die departement het reeds instruksie gekry om dringend alle eise van huurarbeids af te handel.
Meer as 100 voorstelle is al ontvang van boere wat deel wil wees van die loodsprogram vir die versterking van die relatiewe regte van mense wat die grond (ook bekend as die 50/50-voorstel) bewerk.
Skwatsha het gesê 14 van die voorstelle is reeds goedgekeur en net meer as R689 miljoen is by die projekte ingestoot, waaruit 4 450 begunstigdes voordeel trek.
Die projekte
Dié landboubesighede in die Oos-Kaap is Birbury en Klein Mondenrivier, in die Vrystaat is dit Oatlands, Diamond en Kalkput, in Noordwes is dit Stars Away, Tweefontein, Willowpark, Olivenbult en Stinkhoutboom, Westcliff in KwaZulu-Natal, Dabchick in Limpopo en Solms Delta in die Wes-Kaap.
Vir die huidige geldjaar word beplan om 18 plase te bekom vir plaaswerker- en bewoners onder die 50/50-voorstel. Altesaam R525 miljoen sal in die program gestoot word en ’n bykomende 96 165 hektaar sal teen R422 miljoen bekom word om die skewe eienaarskappatrone van grond in die land aan te spreek.
Hy het verder aangedui dat 1 496 plase onder herkapitalisering sedert 2009 is. Die Regering moes R4 miljard bestee om hierdie 1,4 miljoen hektaar grond produktief te maak.