
Etiek binne landbou-waardekettings ontbreek, en dit is nie net verbonde aan goeie arbeidspraktyke op plase nie, aldus die Varsprodukte-uitvoerdersforum.
Mnr. Stuart Symington, die forum se hoof- uitvoerende beampte, het by vanjaar se AllFresh-konferensie in Sun City gesê dit is tyd dat rolspelers in die bedryf ophou om vingers na boere en arbeidspraktyke op plase te wys wanneer daar oor etiese kwessies gepraat word.
Symington meen dat supermarkte al jare lank in ’n regulatoriese vakuum handel gedryf het, en dít het gelei tot swak etiek binne die handelsmark. ’n Voorbeeld hiervan is dat verskepingsmaatskappye ná die Transnetstaking verlede jaar die boetes vir vraghouers wat nie betyds uitgevoer is nie, voor die deur van produsente gaan lê het.
“Die produsente het niks met die staking te doen gehad nie, dit het hulle ook benadeel. So hoekom is dit voor ons deur gaan lê? Omdat die maatskappye kan,” sê Symington. Dié saak is intussen by die Mededingingskommissie aangegee om ondersoek te word.
Weerhou produkte
Volgens Symington moet produsente en rolspelers in die bedryf besef die mag om dié praktyke te staak, lê by hulle. “Weerhou jou produkte as jy nie saamstem met die onetiese optrede van jou verskaffer nie; hy is afhanklik van jou produk.”
Symington het meer oor massa-aksie vertel om oorsese boere se probleme rakende subsidies te illustreer. Hy sê Europese boere kry jaarliks sowat $80 miljard se subsidies, terwyl sowat $20 miljard aan Amerikaanse produsente betaal word.
“Wat doen hulle in Frankryk of ander Europese lande as hulle nie tevrede is met regeringsbeleid of hoe hulle hanteer word nie? Die boere ry met hul trekkers in stede in, hulle parkeer dit in die strate, haal die sleutels uit en los dit daar totdat daar aan hul besware gehoor gegee word. Onthou, die wiel wat die geraas maak, kry die olie,” verduidelik Symington.
Die optrede van baie jeuggroepe wat die afgelope 10 maande in Europa in opstand gekom het omdat hulle nie tevrede is met dienslewering van hul regerings of oor die pryse wat hulle vir produkte betaal nie, is vir Symington in ’n mate bemoedigend. Hy voorspel wel dat moeilike tye vir die landbou volgende jaar voorlê.
26 Oktober 2011