
Wanneer die Europese Unie op 30 April die beperkinge op sy melkboere se produksie afskaf, behoort dit net ’n klein invloed op die Suid-Afrikaanse melkbedryf te hê.
Dit is die bevinding van ’n suiwelkenner in Europa, wat vir die Melkprodusente-organisasie (MPO) navorsing gedoen het. Hy sê die afskaffing van dié kwotas, wat in 1984 ingestel is om oorproduksie te voorkom, gaan ’n klein invloed op die totale Europese melkproduksie hê.
Dr. Koos Coetzee, hoofekonoom van die MPO, sê egter die invloed kan groot wees op enkele produkte: “Soos kaas uit Ierland, waarop Suid-Afrika in die verlede teenstortingstariewe gehad het. Ierse kaas is al in die verlede teen baie lae pryse na ons uitgevoer.”
Coetzee sê Europese boere sal besluit of hulle meer gaan produseer na gelang van hul kopers se behoefte: “Groter plase het die potensiaal om produksie te verhoog, maar nie kleiner plase nie, veral nie plase in bergagtige gebiede nie.”
Mnr. Jacques van Heerden, uitvoerende bestuurder van regsake, sekretarieel en strategiese projekte by Clover, sê as die afskaffing van kwotas tot hoër produksie lei, kan dit internasionale pryse vir suiwelprodukte verder laat daal.
Hy sê die International Farm Comparison Network (IFCN) verwag dat melkproduksie wêreldwyd in die volgende tien jaar met sowat 2,5% per jaar gaan groei. Omdat die wêreldvraag na suiwelprodukte na verwagting op langer termyn die aanbod van onverwerkte melk gaan oorskry, lyk dit volgens Van Heerden asof daar beslis ’n mark vir die verwagte verhoogde melkproduksie in sekere EU-lande kan wees.