
Die Europese kommissie het noodmaatreëls aangekondig om sy suiwelbedryf te help wat ook steier onder die Russiese kosverbod op ingevoerde produkte.
Hulpverlening word met die berging van botter, afgeroomde melkpoeier en sommige kase verskaf om die impak van die Russiese invoerbeperkings te versag en die negatiewe uitwerking op die binnelandse mark in te kort. Hierdie ingryping behoort minstens tot die einde van die jaar te duur.
Die Europese Unie se uitvoer na Rusland het verlede jaar sowat R32,3 miljard beloop en 25 EU-lande het kaas na daardie mark versend. Volgens EU-kommissaris Dacian Ciolos toon prysaanduidings op die Europese suiwelmark dat die Russiese verbod hierdie sektor hard begin slaan. “Uitvoerverdienste het in sommige lidstate verlore gegaan en nuwe afsetgebiede moet gevind word,” het hy gesê. “Die Europese suiwelbedryf benodig tyd en hulp om aan te pas, daarom kondig ons doelgerigte marksteun aan vir melkpoeier, botter en uitvoerkaas. Indien nodig, sal verdere maatreëls volg.”
Volgens die Copa-Cogeca-alliansie is hierdie 'n stap in die regte rigting, maar verdere ingryping is nodig. Volgens sy sekretaris-generaal, Pekka Pesonen, is dit belangrik om hierdie markte te stabiliseer. “Maar melkpryse het in sommige gevalle soveel soos 30% gedaal. “Nog aksie is egter nodig. Ons moet hard werk om verdere afsetgebiede te vind en promosieveldtogte te versnel om nuwe aanvraag te stimuleer. Die EU-mark vir varkvleis trek ook al vir maande swaar en iets moet daadwerklik gedoen word om ook die situasie daar te verbeter.”
Copa-Cogeca doen 'n beroep op die EU vir gebalanseerde marksteun en direkte hulp aan boere en agri-koöperatiewe in spesifieke bedrywe en streke wat die meeste deur die verbod geraak word.
Rusland het wel sy invoerverbod ietwat verslap.