
’n Steunfonds van 420 miljoen euro is deur die Europese Unie tot stand gebring om varsprodukte op te koop wat bestem was vir uitvoer na Rusland, maar deur Moskou se invoerverbod nie afgelewer kan word nie.
Die EU moes vinnig spring om veral groente op te koop om te keer dat produkpryse tuimel. Vrugte is aan die markte onttrek en by skole en hospitale afgelaai.
Agentskappe dring nou by die EU aan om vinniger op te tree om reëlings te tref om boikotvrugte na Amerika en Kanada te verskeep vir verkoop daar.
Luidens die webwerf Nieuzgraser.nl is landbou-organisasies in Europa diep bekommerd dat die uitvoerverbod van EU-produkte na Rusland die geleentheid gee vir ander lande, soos Egipte, Brasilië, Turkye, Colombië, Ecuador, Meksiko en China om hul produkte na Rusland uit te voer.
Selfs in Australië is bemarkers senuagtig oor die Russiese verbod, wat 'n nadelige uitwerking op dié land se uitvoer kan hê. Rusland het verlede jaar sowat 22 000 ton suiwelprodukte uit Australië ingevoer, aldus The Land.
* Rusland se 12 maande lange verbod op die invoer van landbouprodukte uit Australië, Kanada, Amerika, Noorweë en die Europese Unie word wyd verdoem. Moskou het dié verbod ingestel nadat dié Westerse lande ekonomiese sanksies teen Rusland ingestel het weens die onstabiliteit in die Oekraïne.
Rusland is die wêreld se vyfde grootste invoerder van landbouprodukte,
Bron: www.nieuwsgrazer.nl
Bron: The Land