
Sitrusboere staal hulle vir 'n "logistieke nagmerrie" nadat strenger maatreëls oor dié vrugte van Suid-Afrika gister ingestel is.
Volgens dié maatreëls, voorgestel deur die EU se staande komitee oor plantgesondheid, word alle sitrusvrugte uit Suid-Afrika onderwerp aan strenger rekordhouding van voor- en na-oes chemiese behandelings, verpligte registrasie van verpakkingsaanlegte en ter plaatse amptelike inspeksies van sitrusboorde.
Die grootste probleem vir sitrusboere is dat die nuwe reëls vereis dat minstens 600 vrugte per 30 ton van elke tipe sitrusvrug getoets moet word. Verder sal een monster per 30 ton Valencias ook getoets word. Die reëls maak geen onderskeid tussen sitrus wat vars verkoop word en die wat vir versapping uitgevoer word nie.
'n Sitrusboer van Limpopo sê hoewel hulle bly is dat hulle nog kan uitvoer, hy nie weet hoe die maatreëls in die praktyk kan werk nie. "Dis 'n logistieke nagmerrie."
Die maatreëls sal eersdaags in werking tree, en indien daar gereelde onderskeppings is van vrugte wat met swartvleksiekte besmet is, sal die maatreëls verder versterk word en kan selfs bykomende beperkings opgelê word.
Die EU het van April tot November 2013 sowat 600 000 ton sitrus van Suid-Afrika ingevoer. Dit is sowat 'n derde van die sitrusvrugte wat die EU jaarliks invoer.