
Swartvlek is op 17 Julie vir die eerste keer die seisoen op sitrus uit Suid-Afrika gekry.
Mnr. Justin Chadwick, hoof uitvoerende beampte van die sitruskwekersvereniging (CGA), sê die plantgesondheidsowerhede in Nederland het Sondag, 20 Julie, die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye laat weet van dié onderskepping en dat 'n kennisgewing van nie-nakoming uitgereik is.
"Dis 'n groot teleurstellilng, veral omdat ons so baie gedoen het om seker te maak ons voldoen aan alle vereistes en te wys dat ons daaraan toegewy is om die Europese Unie (EU) se vereistes na te kom. Dit het enorme koste vir die Suid-Afrikaanse Regering en die sitrusbedryf meegebring en sluit toetsregimes en omvattende risikobestuur in."
Volgens Chadwick het die CGA 'n geakkrediteerde kundige gestuur om die plaas waar die vrugte vandaan kom, saam met departementele verteenwoordigers te besoek om uit te vind hoe die besmette sitrus deur die risikobestuursnet geglip het en maatreëls voor te stel om te keer dat dit weer gebeur.
Mnr. Deon Joubert, die CGA se spesiale gesant by die EU, is ook Europa toe gestuur om die saak met alle belanghebbers daar te bespreek.
Chadwick sê hoewel die onderskepping 'n terugslag is, is dit ook 'n geleentheid om die plaaslike prosesse vir riskikobestuur te verbeter. "Ons gaan voort met die prosesse om te verseker dat ons in die afsienbare toekoms sonder beperkings kan handel dryf."
Chadwick het weer beklemtoon dat sedert 1992 geen ooreenkoms tussen Suid-Afrika en die EU bestaan oor die risiko of swartvleksiekte deur vrugte na die EU oorgedra kan word nie. "Ten spyte van noemenswaardige pogings deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die CGA, is daar nog geen ooreenkoms of kommersiële vrugte van gebiede waar swartvleksiekte voorkom, 'n risiko is vir sitrusproduserende gebiede in die EU waar daar nie swartvleksiekte is nie. Daar is ook nie ooreenstemming oor wat die omvang van die moontlike risiko is nie, of oor die maatreëls wat nodig is om die werklike risiko te verminder nie. Dit is noodsaaklik om dié verskil in opinie, én die wetenskap wat dit onderlê, vir altyd op te los."
Die EU is en bly 'n belangrike mark vir die SA sitrusbedryf. "Die CGA doen 'n beroep op min. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, om die swartvlekkwessie spoedig en vriendskaplik met die EU te skik. Die toekoms van hierdie belangrike landboubedryf hang daarvan af."