
Suider-Afrikaanse lande se nuwe ekonomiese vennootskapsooreenkoms (EPA) met die Europese Unie (EU) maak groter wedersydse suiwelhandel moontlik, maar Suid-Afrika stoei nog met die vereiste uitvoersertifikasie om voordeel hieruit te put.
Mnr. Alwyn Kraamwinkel, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Melkprosesseerdersorganisasie (Sampro), sê die vorige ooreenkoms oor handel, ontwikkeling en samewerking (TDCA) tussen Suid-Afrika en die EU het 'n uitvoerkwota van kaas na die EU bepaal.
Dié kwota het nou met die EPA verval, sodat Suid-Afrikaanse ondernemings onbeperkte hoeveelhede kaas daarheen kan uitvoer. “Uitvoersertifisering van Suid-Afrikaanse suiwelprodukte na die EU bly egter 'n struikelblok en is een van die uitdagings wat die bedryf tesame met die verantwoordelike sertifiseringsowerhede moet oorkom.
“Die bestaande strukture van die betrokke owerhede verantwoordelik vir sertifisering, het sekere tekortkominge en gebreke wat aandag moet kry en reggestel moet word alvorens enige suiwelprodukte uitgevoer kan word,” sê Kraamwinkel. Die bedryf is hieroor in gesprek met die betrokke owerhede.
Oor wat Suid-Afrikaanse verwerkers na die EU sou kon uitvoer, sê mnr. De Wet Jonker, bedryfsekonoom van Sampro, hulle sal nismarkte daar moet gaan ontgin. Meer as 15 jaar gelede het Suid-Afrika beperkte hoeveelhede beleë cheddar vir 'n kort tyd na die EU uitgevoer.
EU-kaas
Volgens Jonker het die TDCA-kaaskwota van 5 000 ton vir kaasinvoer uit die EU in 2000 in werking getree en jaarliks met 150 ton verhoog. Die kwota geld steeds en beloop vanjaar 7 550 ton, waarvan die grootste hoeveelheid waarskynlik aan Suid-Afrika toegedeel sal word.
Die EPA bring egter 'n nuwe bedeling rakende invoertariewe en soorte kaas wat ingevoer kan word. Volgens die TDCA kon slegs verwerkte kaas, gouda- en cheddarkaas teen 'n nultarief vanaf die EU ingevoer word.
Op alle ander kaas was daar 'n binne kwota-tarief van R2,50/kg (50% van die normale tarief van R5/kg) en op kaas buite die kwota moes 'n tarief van R5/kg betaal word. Kragtens die EPA kan enige soort kaas nou binne die kwota teen 'n nulkoers ingevoer word. Jonker sê die bedryf hoop dit sal meebring dat meer soorte kaas binne die kwota ingevoer word, sodat die hoeveelhede gouda- en cheddarkaas wat ingevoer word, minder druk op die plaaslike bedrywe sal plaas.