
Daar word verwag dat Europese wetgewing wat die invoer van sitrusvrugte uit Suid-Afrika sal reguleer, op 30 Junie gepubliseer gaan word, sê mnr. Deon Joubert, die sitruskwekersvereniging (CGA) se spesiale gesant vir marktoegang en Europese Unie (EU)-sake.
"Dit beteken dat die maatreëls 21 dae later (21 Julie 2014) van toepassing sal wees op alle vrugte by aankoms in die EU. Volgens die maatreëls moet alle soet lemoene, behalwe nawels, die Ethapon-toets vir swartvleksiekte van sitrus ondergaan het voordat dit uitgevoer is. Daarbenewens moet die departement van Landbou, Bosbou en Visserye behalwe die bestaande fito-sertifikaat, ook 'n bykomende verklaring oor die toets uitreik."
Joubert sê die maatreëls kan veroorsaak dat kleiner volumes vrugte uitgevoer word en produsente 'n laer inkomste realiseer, dog dit word beskou as 'n "noodsaaklike opoffering" om die EU-mark vir sitrus oop te hou. "Daarom voldoen die plaaslike sitrusbedryf aan al die vereistes en gee hulle gestalte aan die erns wat Suid-Afrika het om die risiko van swartvlek uit te skakel."
Volgens Joubert het ampsdraers van die CGA, Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en PPECP onlangs sitrusprodusente in die Oos-Kaap en noordelike produksiegebiede besoek. Die besoeke was daarop gemik om seker te maak dat produsente die volgende fase van maatreëls, naamlik die Etaphon-toets, vir uitvoer en sertifisering vir die tweede helfte van die seisoen ten volle verstaan en betyds in werking stel.
Die CGA het die Etaphon-toets en sertifisering op 24 Junie aan personeel van die ambassades van die EU, Italië, Spanje en Nederland op 'n besoek aan Rosle Boerdery in Mpumalanga verduidelik.
Teen 20 Junie was daar nog nie een onderskepping van vrugte wat met swartvleksiekte besmet is nie.