
Die Europese Unie (EU) wil vereistes vir volhoubare voedselproduksie wat hy aan sy eie boere stel, deel maak van sy handelsooreenkomste, sodat dit ook vir produkte sal geld wat na die EU uitgevoer word.
Die praktiese toepassing van die EU se nuwe Farm-to-Fork-strategie ten opsigte van produkte wat na die streek uitgevoer word, sal in gesprekke tussen die EU en sy handelsvennote bespreek word, het mnr. Ricard Ramon i Sumoy van die landboudirektoraat van die Europese Kommissie op ’n EU-seminaar oor voedselstandaarde in Johannesburg gesê.
Die EU wil ’n hoofstuk oor volhoubaarheid insluit by sy handelsooreenkomste.
Ramon i Sumoy kon nog nie spesifieke besonderhede of datums oor die toepassing van die strategie se “ambisieuse doelwitte” gee nie omdat die gesprekke nog gevoer word. Hy het gesê die 2030-teikens van die Farm-to-Fork-strategie is tans strewes en nie wetlik afdwingbaar nie.
Volhoubare landbou word soms as strydig met voedselsekerheid gesien, maar volgens hom werk die twee eintlik saam. Om voedselsekerheid op medium- en lang termyn te kan verseker, moet natuurlike hulpbronne bewaar word.
Aanpassing van praktyke
Die Farm-to-Fork-strategie is deel van die EU se Grean Deal, wat gemik is op die bekamping van klimaatsverandering, en stel onder meer mikpunte vir die verminderde gebruik van plaagdoders, kunsmis en antimikrobiese middels.
Volgens Ramon i Sumoy het die EU van 2012 tot 2017 die risiko van plaagdodergebruik reeds met 20% verminder. Die nuwe doelwit is om teen 2030 die oorhoofse gebruik en risiko van chemiese plaagdoders met 50% te verminder.
Ten opsigte van plaagdoders is die doelwit om voedingstofverliese in landbougrond teen 2030 met minstens 50% te verminder, en terselfdertyd te verseker dat grondvrugbaarheid nie agteruitgaan nie. Só kan die gebruik van kunsmis met minstens 20% verminder word.
Die verkope van antibiotika vir gebruik in diereproduksie in die EU het van 2011 tot 2018 met 28% gedaal, hoewel daar volgens Ramon i Sumoy groot verskille tussen EU-lidlande is. Die doelwit is om teen 2030 die verkope met 50% te verminder.
Die Farm-to-Fork-strategie wil spesifiek ook organiese boerdery bevorder. Tans word sowat 9% van die landbougrond in die EU organies verbou, met die oogmerk om dit teen 2030 tot 25% te verhoog. Volgens Ramon i Sumoy toon lidlande ’n groot verbintenis hiertoe, asook om boere in die oorskakeling finansieel te ondersteun.
Van die daadwerklike stappe wat die EU oorweeg om die Farm-to-Fork-strategie te kan uitvoer, is die ontwikkeling van ’n wetgewende raamwerk, die hersiening van dieresorgwetgewing en die regulering van voerbymiddels, ’n gedragskode vir die voedsel-, kleinhandel-, gasvryheids- en voedseldienssektor, die bevordering van gesonde kos by verbruikers, veranderinge rakende voedseletikette, en die vermindering van voedselverliese en -vermorsing.
Billikheid en koste
In antwoord op ’n vraag wat met billikheid in die strategie bedoel word, het Ramon i Sumoy gesê alle boere, ook kleinboere, moet toegang hê tot tegnologie wat hulle in staat stel om volhoubaar te boer.
“Die rol van die familieplaas, klein plase en tradisionele metodes, stelsels en praktyk is deel van die kern van ons oorwegings. In ons internasionale projekte gee ons daaraan aandag dat almal die voordele geniet. Familieboerdery is deurslaggewend in die internasionale debat.”
Mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika, het gevra hoe ’n balans in die strategie gevind word tussen die volhoubaarheid van die omgewing en die risiko dat die boer se koste styg.
Ramon i Sumoy het geantwoord die kommissie het nooit ontken dat daar koste aan die strategie verbonde is nie. “Dit is logies dat indien ons die moontlike gebruik van sommige produksiemiddele verminder, en niks anders doen nie, produksie sal verminder. Of indien die vereistes verhoog word, sal die koste verhoog.
“Dit is presies hoekom innovering nodig is en daar alternatiewe op die tafel moet wees. Ons moet oplossings en alternatiewe vir boere bied. Ons meen die koste kan minder wees as wat sommige mense dink.”
Die strategie maak voorsiening vir navorsing om alternatiewe te vind.