’n Bestelling uit Europa vir gekookte volstruisvleis is maar ’n druppel in die emmer vir die bedryf, en daar is steeds baie vrae oor die werklike voordele wat dit vir die sukkelende bedryf inhou.
Klein Karoo Internasionaal het ’n bestelling vir gekookte volstruisvleis gekry, het mnr. Danie Terblanche, nasionale bemarkingsbestuurder, bevestig. Hy wou nie verder daaroor uitbrei nie.
“Ons markontwikkeling wat die nuwe produk betref, is nog so in ’n vroeë stadium dat ons nie kan sê of dit gaan werk of nie en of daar verdere bestellings sal wees nie.”
Landbou.com het verneem die verwerking word gedoen met tegnologie wat van BullBrand afkomstig is. Mnr. Piet Lödder, voorsitter van Agri Klein Karoo, is nie oortuig dat die gekookte vleis die bedryf gaan red nie.
“Die vraag wat ons moet vra, is wat gebeur as die mark môre oopmaak en ons weer vars vleis kan uitvoer? Gaan die gekookte vleis volhoubaar gedoen kan word? Die hele aanslag moet wees om te besluit watter persentasie rou vleis, gekookte vleis en vleis met toegevoegde waarde wil ons uitvoer?”
Hy sê dit is baie makliker om rou vleis uit te voer, want streng maatreëls geld vir die gekookte vleis. “Dis nie ’n grap nie. Dit is moeilike werk.”
Lödder is eerder ten gunste van waardetoevoeging by volstruisvleis as die gekookte vleis.
“In die ou dae het ons gerookte volstruisfilette teen R240 per kg verkoop en dit het met parmaham meegeding. Ons het dit gestaak omdat daar nie genoeg vleis in die bedryf was nie. In Desember het ’n kettingwinkelgroep parmaham teen sowat R53 vir 70 g – oftewel R750 per kilogram – geadverteer.”
Volgens mnr. Wouter Kriel, woordvoerder van die Wes-Kaapse landbouminister, mnr. Gerrit van Rensburg, is dit goeie nuus vir die bedryf, maar slegs ‘n druppel in die emmer.
“Ons fokus bly op rou vleis.”
Mnr. Piet Kleyn, waarnemende uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Volstruisbesigheidskamer (SAVBK), kon nie vir kommentaar bereik word nie.
2 April 2012