
Eskom moes Sondag noodgedwonge fase 6-beurtkrag instel nadat onbeplande verliese van sy kragvoorsiening van ongeveer 15 630 MW die kragnetwerk onder geweldige druk geplaas het.
Die onbeplande verliese saam met beplande instandhoudingswerk van ongeveer 7 000 MW het veroorsaak dat sowat die helfte van Eskom se opwekkingskapasiteit teen Sondag onbeskikbaar was.
Eskom se noodopwekkingseenhede, soos die dieseltribunes en pomopgaarskemas wat tydens beplande instandhoudingswerk ingespan word om krag te help voorsien, moes verlede week oortyd werk, maar van hierdie aanlegte is teen Sondag afgeskakel om aangevul te word.
Fase 6 sleg vir ekonomiese herstel
Die slegte nuus oor beurtkrag volg op die aankondiging dat Eskom boonop aansoek gedoen het om tariewe met meer as 30% in 2023 te verhoog.
Volgens die buro vir ekonomiese navorsing (BER) bedreig fase 6-beurtkrag die vooruitsigte van moontlike ekonomiese herstel waarop daar vir die derde kwartaal gehoop is.
“Die kringloop tussen die volgehoue hoë inflasie wêreldwyd, aggressiewe beleide oor rentekoers en kommer oor die impak daarvan op vooruitsigte vir ware BBP-groei het veral die afgelope week vir heelwat opskrifte reg oor die wêreld gesorg.
“Midde hierdie scenario waarin die stand van die wêreldekonomie versleg, is die Suid-Afrikaanse ekonomie opnuut swaar getref deur die uitmergelende impak van beurtkrag,” skryf die BER van die Universiteit Stellenbosch in sy weeklikse brief.
“Die intensiteit van die huidige kragonderbrekings bedreig die herstel van die BBP vanaf die 0,7% inkrimping op ’n kwartaalgrondslag in die tweede kwartaal van die jaar. Dit herinner ook net weer hoe broodnodig kragopwekking vanaf die private sektor is, asook die verkryging van geld daarvoor.
Tariefverhogings en dieselvoorraad
“Die minder gunstige nuus is Eskom se verwagting op groot tariefverhogings die volgende paar jaar. Eskom het bevestig hy het aansoek gedoen vir ’n reusagtige tariefverhoging van 32% in 2023 en weer 9,7% in die daaropvolgende jaar, grootliks weens dieselkoste en uitgawes wat aangegaan word om krag van onafhanklik kragverskaffers te ontvang.”
De Ruyter het Sondag gesê dit is ’n feit dat Eskom likiditeitsprobleme het om meer diesel te kan koop. Volgens hom het Eskom gedurende die eerste vyf maande van die huidige boekjaar reeds R7,7 miljard se diesel verbruik. “Dit is omtrent die hele toedeling vir die hele jaar se begroting.”
Volgens hom sou Eskom Maandag begin om dringend onafhanklike kragverskaffers te skakel met die hoop om bykomend 1 000 MW te verkry.
Mnr. Jan Oberholzer, Eskom se bedryfsbestuurder, het Sondag gesê hoewel van die steenkool-opwekkingseenhede oor die volgende paar dae ingespan kan word, sal hoër vlakke van beurtkrag vir die res van die week geld.
Fase 5 van middernag af
Intussen het 'n woordvoerder van Eskom aan Landbou.com bevestig dat fase 5 beurtkrag van middernag Maandagnag af sal geld, soos wat eenhede tans herstel en weer krag kan opwek. Die woordvoerder het ook bevestig dat 'n brand by 'n vervoerbrand by die Kriel steenkoolmyn voorgekom het, maar dat dié brand nie kragopwekking sal beïnvloed nie.
Beurtkrag ondermyn voedselproduksie
Mnr. Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, waarsku dat die toename in beurtkrag voedselproduksie ondermyn en dat dit vir dié organisasie se lede ’n groot bron van kommer is.
“Betroubare elektrisiteit is noodsaaklik in elke faset van die landboubedryf. Fase 6-beurtkrag veroorsaak egter dat landbou-aktiwiteite vir groot dele van die dag tot stilstand gebring moet word.”
Luidens ’n verklaring blameer Vrystaat Landbou swartbemagtigingswette, vakbonde en burokratiese beperkings om die volgende redes vir die voortslepende krisis:
- Die rasbehepte “bemagtigingsbeleid” lei tot kripvretery deur politike elite binne staatsinstellings soos Eskom. Dit het kundigheid en bekwame bestuur (van alle gemeenskappe) uit Eskom verdryf en het tot gevolg dat die ekonomie stelselmatig doodgewurg word. Nou word voedselproduksie deur politieke ideologie gesaboteer.
- Die invloed wat Numsa in Eskom sowel as die regering het, dra by tot die kragkrisis. Dekades lank word na die vakbonde se pype gedans tot nadeel van al die land se mense. Gerugte van sabotasie tydens die onlangse loongeskille met Eskom dui daarop dat Numsa Suid-Afrika gyselaar sal hou vir sy eie belange.
- Private kragvoorsieningskapasiteit bestaan reeds. Dit is gereed om elektrisiteit in die kragnetwerk te stoot. In sommige gevalle is daar ook reeds oplossings vanuit die landbou gereed. Die inwerkingstelling van hierdie opwekkingsvermoë word egter nie deur Eskom se ideologies gedrewe en rasbehepte burokrasie toegelaat nie.
“Die uitwerking van die kragkrisis op Suid-Afrika se vermoë om voldoende en bekostigbare voedsel te produseer en sy impak op werkskepping, is twee uiters belangrike faktore wat Suid-Afrika nader aan ’n naaldpunt van anargie te plaas. Dit bedreig baie meer as net die landbou in Suid-Afrika,” sê Wilken.
Vrystaat Landbou doen vanmiddag (Maandag, 19 Sepember) ’n voorlegging aan Nersa in teenkanting van Eskom se versoek om ’n prysverhoging van 32% wat hy van 1 April 2023 af wil instel.