
Suid-Afrika kan beslis baat vind by meer toetsstasies vir die fase C-toetsing van bulletjies, meen bedryfskenners. In dié toets word individuele bulletjies se voerinname getoets met die oog daarop om die diere se voeromsetting en dus groeivermoë te bepaal, sê mnr. Pieter Booysen, stoetkuddebestuurder van die landboumaatskappy Sernick.
Booysen sê hoewel die maatskappy vanjaar genoeg ruimte het om bulletjies vir fase C-toetsing in te neem, moes die maatskappy se toetsstasies verlede jaar boere wegwys omdat hul stasies heeltemal vol was. “Wanneer ons kyk na die totale vermoë om fase C-toetsing op bulletjies te verrig, is daar plek vir uitbreiding. Ons het verlede jaar net meer as 580 bulletjies getoets en dit het die toetsstasie tot sy volle vermoë gevul.”
‘Nie tot niet’
Dr. Ben Greyling, navorsingspanleier vir vleisbeesverbetering verbonde aan die Landbounavorsingsraad (LNR), verwerp gerugte dat die LNR se toetsstasies nie oor voldoende vermoë beskik nie en feitlik tot niet is.
“Die LNR het verlede jaar meer as 700 bulletjies deur die fase C-toets gesit. Saam met nog navorsingsprojekte wat deur die LNR behartig word, is bykans 1 000 bulle deur die instelling getoets.” Hy het ook daarop gewys dat die LNR besig is om sy geriewe vir toetsing op te knap en dus sy vermoë verbeter.
“Die nuwe geriewe bevat onder meer die jongste tegnologie om soveel moontlik data oor veeverbetering in te win. Dit sal die vleisbeesgenomikaprojek, waarvan die LNR bestuurder én diensverskaffer is, nog doeltreffender maak,” sê Greyling.